Onderwysstudente en -dosente se ervarings van die effektiwiteit van Liggaamlike Opvoeding onderwysersopleiding in afstandsonderrigmodus
Loading...
Files
Date
Authors
Supervisors
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
North-West University (South Africa)
Record Identifier
Abstract
Afstandsonderrig is 'n modus van onderrig wat aan studente wat weens 'n tekort aan tyd, toegang
of finansiële vermoëns nie in staat is om voltyds by 'n universiteit in te skryf nie, die geleentheid
bied om in hulle eie omgewing en teen hulle eie pas te studeer. Afstandsonderrigkursusse en -
programme het, ook in Suid-Afrika, so uitgebrei oor die jare heen dat 'n wye verskeidenheid
kursusse aangebied word, insluitend onderwysersopleiding. Die literatuur toon dat daar 'n tekort
aan opgeleide Liggaamlike Opvoeding-onderwysers in Suid-Afrika is, wat dus deur hierdie modus
van opleiding aangespreek kan word. Hoewel enkele Suid-Afrikaanse universiteite Liggaamlike
Opvoeding in afstandsonderrigmodus aanbied, is dit meestal net as 'n gedeelte van 'n module,
en staar hulle die uitdagings van die opleiding in die praktiese komponente van die vak, in die
gesig. Die doel van hierdie studie was daarom om onderwysstudente en -dosente se positiewe
en negatiewe ervarings van die effektiwiteit van Liggaamlike Opvoeding onderwysersopleiding in
afstandsonderrigmodus, te ondersoek. Dié kwalitatiewe studie is begrond in Moore (1983, 1989, 2013) se Teorie van Transaksionele
Afstand (TTA), wat postuleer dat struktuur (die kursus se samestelling en inhoud), dialoog (die
interaksie tussen "leerder-leerder", "leerder-inhoud" en "leerder-instuktreur") en outonomie (die
onafhanklikheid van die studente ten opsigte van hul studies) die transaksionele afstand, dus die
ervaring van die psigologiese, kognitiewe en affektiewe afstand tussen die student en die dosent
kan vergroot of verklein. Die data-insameling het semi-gestruktureerde, individuele onderhoude
met vier dosente en oop-einde vraelyste met 17 studente in 'n Liggaamlike Opvoedingafstandsonderrigmodule,
behels. Die vyf temas wat uit die data-analise na vore gekom het, is: interaksie tussen studente en
dosente; bekwaamheid, passie en entoesiasme om Liggaamlike Opvoeding te onderrig;
hindernisse met betrekking tot Liggaamlike Opvoeding in afstandsonderrig; ervarings met
betrekking tot die praktiese opleiding in Liggaamlike Opvoeding; en die inhoud van die
Liggaamlike Opvoedingprogram en studente se persepsies van Liggaamlike Opvoeding. Met
betrekking tot die eerste tema, het die studente die dosente beleef as professioneel, beskikbaar
en sorgsaam, wat bygedra het tot die positiewe interaksie tussen studente en dosente. Negatiewe
ervarings van studente het ingesluit dat daar geen fisieke kontak was tussen die student en
dosent nie. Wat die tweede tema betref, het dit geblyk dat die dosente se passie vir Liggaamlike
Opvoeding studente gemotiveer het om ook met entoesiasme die vak aan leerders te onderrig.
Die studente se bekwaamheid en selfvertroue het ook toegeneem soos hul met die module
gevorder het. Die hindernisse wat met betrekking tot Liggaamlike Opvoeding in
afstandsonderrigmodus deur die studente en dosente ervaar is, was eerstens die studente se agtergrondkennis, tegnologiese ongeletterdheid en beperkte internettoegang, en tweedens
tekorte in die administrasie van opdragte. Hierdie hindernisse blyk dus die vlakke van
transaksionele afstand en interaksie tussen die dosente en studente verswak het, aangesien dit,
volgens die TTA, die outonomie- en struktuurkomponente negatief beïnvloed het. Die tema van
ervarings met betrekking tot die praktiese opleiding in Liggaamlike Opvoeding, het behels dat die
deelnemers die gebruik van video's grootliks positief ervaar het, hoewel hulle ook nadele daarvan
aangetoon het. Sommige studente het dit ook negatief ervaar dat daar soms 'n lang tydperk
tussen die indiening van 'n opdrag en die terugvoer daarop vanaf die dosent af, was. Die laaste
tema, naamlik die Liggaamlike Opvoedingprogram se invloed op deelnemers se persepsies van
Liggaamlike Opvoeding, het ingesluit dat die studente die inhoud van die Liggaamlike
Opvoedingkursus as positief beleef het omdat dit vir hulle so interessant was. Die bewustheid
van die waarde van Liggaamlike Opvoeding vir die holistiese ontwikkeling van leerders, het ook
die studente gemotiveer om in die kursus te presteer. Die aspekte van Liggaamlike Opvoeding-onderwysersopleiding in afstandsonderrigmodus wat
deur onderwysstudente en -dosente as effektief en positief ervaar is, was dus die professionaliteit
en beskikbaarheid van die dosente asook hulle bekwaamheid en passie in die aanbieding van
Liggaamlike Opvoeding; die studente se toenemende bekwaamheid soos wat die
opleidingprogram gevorder het en hulle entoesiasme om Liggaamlike Opvoeding vir leerders aan
te bied; die gebruik van video's in die praktiese opleidingskomponent en die inhoud van die
Liggaamlike Opvoedingprogram in die bevordering van die studente se persepsies van die vak.
Deur die lens van die TTA was die "dialoog" (in hierdie geval die interaksie tussen dosente en
studente, en tussen studente en die studiemateriaal) dus konstruktief en bevorderend tot die
studente se vlakke van outonomie, en kon dit die transaksionele afstand verklein. Die studente
se ervarings van die bekwaamheid van die dosente en die effektiwiteit van die video's, vorm deel
van die "struktuur"-komponent van die TTA waardeur die studente ervaar het dat hulle kennis,
bekwaamheid, selfvertroue en entoesiasme verhoog het.
Sustainable Development Goals
Description
MEd (Liggaamlike Opvoeding), North-West University, Potchefstroom Campus
