Aspekte van ’n meerdoelige Afrikaanse uitspraakwoordeboek
Loading...
Date
Authors
Researcher ID
Supervisors
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
North-West University
Record Identifier
Abstract
Die hoofdoelwit van hierdie studie was om die relevante aspekte van 'n meerdoelige Afrikaanse uitspraakwoordeboek te ondersoek. Meer spesifiek is daar gepoog om 'n empiriese en konseptuele grondslag vir 'n meerdoelige Afrikaanse uitspraakwoordeboek, wat geskik is vir hedendaagse taaltegnologie en Suid Afrikaanse uitsaaikontekste te bied. Die gebrek aan 'n empiriese en konseptuele grondslag gebaseer op die leemtes van (i) die afwesigheid van 'n resente, eindgebruikersgerigte uitspraakbron vir Afrikaans; (ii) die gebrek aan sistematiese kennis oor hoe Afrikaanssprekende mediapraktisyns eiename en leenwoorde uit nie-Germaanse tale uitspreek; en (iii) die afwesigheid van navorsing oor Afrikaanssprekendes se houdings teenoor die algemene Afrikaanse mediauitspraak van 'n spesiale leksikon bestaande uit eiename en leenwoorde uit vreemde tale. Die enigste omvattende Afrikaanse uitspraakwoordeboek, Le Roux en Pienaar (1976), weerspieël nie meer die huidige taalkundige en sosiale realiteite nie, bied minimale leiding oor eiename en leenwoorde van vreemde herkoms, en is nie geskik vir digitale of tegnologiese toepassings nie. Terselfdertyd skep die groei van spraakgedrewe tegnologie 'n dringende behoefte aan gesaghebbende, toeganklike en masjienversoenbare uitspraakbronne vir Afrikaans. Die studie maak gebruik van gemengde metodologie. Hoofstuk 2 bevat 'n uitgebreide behoeftebepaling wat 'n elektroniese vraelys en semigestruktureerde onderhoude met 28 omroepers insluit. Respondente toon oorweldigend dat hulle bykans sonder uitsondering 'n behoefte aan uitspraakleiding vir die inheemse tale, spesifiek dié met klapklanke het. Die behoefte aan uitheemse tale word veral gerig op nuusgebeure van 'n sekere tydstip. Die ondeursigtige ortografie van tale soos Chinees en Frans skep ook 'n behoefte aan uitspraakleiding. Klanklêers en Afrikaans-gebaseerde herspelling is die voorkeurmodaliteite. Die Internasionale Fonetiese Alfabet (IFA) is nie gewild onder omroepers nie, omdat die meeste respondente nie noodwendig tersiêre opleiding in taalkunde of fonetiek het nie. 'n Mobiele of webgebaseerde bron word oorwegend verkies, aangesien omroepers vinnige toegang tot inligting benodig. Respondente versoek sowel Afrikaans-verafrikaanste (T1) as brontaalgetroue (T3) uitsprake. Die bevindinge toon duidelik dat daar 'n behoefte is aan betroubare uitspraakleiding vir sekere tale. Hoofstuk 3 rapporteer oor eksperiment 1, wat ondersoek het hoe 32 omroepers wat by die Afrikaanse media betrokke is Zoeloe-, Spaanse en Mandarynse items uitgespreek het terwyl hulle 'n fiktiewe nuusberig lees. Die analise van die uitsprake toon dat daar nie 'n enkelvoudige, "algemene Afrikaanse mediauitspraak" bestaan nie en dat uitspraakstrategieë gebaseer word op twee- en meertaligheid, ortografie, fonotaktiese beperkings en tydsdruk. Hoofstuk 4 bespreek eksperiment 2, 'n grootskaalse houdingstudie met meer as 200 deelnemers wat opnames van 'n stemkunstenaar se T1-, T2- en T3-uitspraak beoordeel het. Respondente kon die verskille betroubaar waarneem en het meestal T1-uitsprake vir hoëfrekwensiewoorde verkies. T3 was die voorkeur vir laefrekwensiewoorde. Die belangrikste rede vir die voorkeuruitspraak is "bekwaam en professioneel". Respondente het die grootste afkeur van 'n T2-uitspraak, spesifiek 'n Amerikaanse Engelse aksent getoon. Die belangrikste rede vir respondente se T2-afkeur was "onnatuurlik en pretensieus". Die bevindinge van albei eksperimente bevestig dat 'n Afrikaanse uitspraakwoordeboek veelvuldige variante, duidelike herspelling en klankmodelle moet bied. Die proefskrif beveel 'n mobiele, multimodale en funksiegerigte woordeboek aan met 'n hibriede deskriptief-preskriptiewe benadering, en met prioriteit aan hoëfrekwensie-eiename en leenwoorde van inheemse tale. In geheel verskaf die proefskrif die eerste omvattende empiriese basis vir die ontwikkeling van 'n moderne Afrikaanse uitspraakwoordeboek wat taalkundig verantwoord, tegnologies toepaslik en gebruikersgerig is.
Sustainable Development Goals
Quality Education, Industry, Innovation and Infrastructure, Reduced Inequalities, Sustainable Cities and Communities
Description
Thesis (PhD (General Language and Literary Studies))--North-West University, Potchefstroom, 2026.
