'n Ondersoek na die aankoopfunksie van sekuriteitsondernemings in Gauteng
Loading...
Files
Date
Authors
Researcher ID
Supervisors
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
North-West University
Record Identifier
Abstract
Globalisering van wêreldhandel is seker een van die belangrikste faktore wat die groei van aankope beïnvloed. Verder veroorsaak globale mededinging dat ondernemings met wêreldklas leweransiers moet meeding, met betrekking tot hulle produkte en dienste. Die aankoopfunksie speel 'n belangrike rol, veral in die ondersteuning van globale aankope. Die rede vir die belangrike rol wat aankope speel, is dat indien dit effektief bestuur word dit kan lei tot verhoogde omset, wins en doeltreffendheid. Gedurende die afgelope dekades het bestuurders die belangrikheid van die aankoopfunksie besef, alhoewel daar nog steeds 'n verskil is hoe die ondernemings die funksie benader. Vir die bestuur van die onderneming is dit belangrik om die belangrikheid van die aankoopfunksie raak te sien en dit kan nie net meer beskou word as 'n administratiewe taak nie. Die funksie sluit oorhoofs die voorsiening van voorraad, rou-materiale en dienste in. Dit word beklemtoon dat aankoopprosedures by elke onderneming se spesifieke behoefte moet aanpas. Die waardeketting verskaf 'n nuttige verwysingsraamwerk om die aktiwiteite wat in 'n sakeonderneming voorkom in 'n logiese volgorde te plaas en om die waarde wat elkeen bydra in perspektief te stel. Dit is ook waar die belangrikste aankoopsituasies na vore kom wat in berekening geneem moet word wanneer 'n onderneming aankope doen. Daar is faktore in die onderneming se omgewing wat die organisasiestruktuur van die onderneming en dus ook die aankoopfunksie beïnvloed. Verder moet beklemtoon word dat die ontwikkeling van organisasiestrukture vir die doeltreffende uitvoer in die aankoopfunksie steeds plaasvind. Daar kan tussen drie soorte organisasiestrukture onderskei word naamlik gesentraliseerde aankope, gedesentraliseerde aankope en 'n kombinasie van die twee. Gesentraliseerde aankope vind plaas wanneer 'n enkele individu of afdeling, die bevoegdheid en gesag het om alle aankope namens die onderneming te doen, terwyl gedesentraliseerde aankope verwys na wanneer aankope deur verskillende afdelings of individue gedoen word. Om die doelstelling van die aankoopfunksie te bereik, word verskeie aankoopbestuursaktiwiteite geïdentifiseer, wat gekoördineerd en doeltreffend uitgevoer moet word. Só het die konsep "aankoopfunksie" ontwikkel, op die gebied van aankoophantering en -voorsiening. Die aankoopfunksie bied 'n organisasiestruktuur waarbinne alle interafhanklike aktiwiteite, wat verband hou met die toevoer en deurvloei van produkte, onder een bestuurspos, naamlik dié van aankoopbestuurder, gegroepeer is. Daar bestaan 'n al hoe nouer interafhanklikheid tussen aankoopaktiwiteite en die aktiwiteite van ander ondernemingsfunksies met betrekking tot produkvoorsiening om sodoende gesamentlike ondernemingdoelstellings te verwesenlik. Die populasie vir hierdie studie was alle sekuriteitsondernemings in Gauteng. Vraelyste is tesame met 'n begeleide brief elektronies na 80 ondernemings gestuur en ook telefoniese oproepe is gedoen. Ondernemings is versoek om binne twee weke die vraelyste aan die navorser terug te besorg. Daar is 51 vraelyste terug ontvang. Eksploratiewe faktorontleding is gebruik om datareduksie uit te voer. Sodoende is 47 items saamgevoeg in 12 konstrukte. Navorsingsvrae 1-4 is beantwoord in die studie deur frekwensies en gemiddeldes te gebruik en vrae 5 en 6 is beantwoord deur Cohen se effekgroottes, d-waardes, te bereken. Die resultate het aangedui waar die aankoopaktiwiteite in sekuriteitsondernemings plaasvind. Daar is ook vasgestel of die aankoopfunksie binne sekuriteitsondernemings gesentraliseerd of gedesentraliseerd is. Daar is ten slotte gefokus op die moontlike verskille tussen uitvoerende en operasionele bestuur ten opsigte van besluitneming en ook die verskille tussen uitvoerende en operasionele bestuur in ondernemings met aparte aankoopafdelings ten opsigte van hulle besluitneming. 'n Leemte in die studie is dat daar is baie sekuriteitsondernemings in Suid-Afrika is en dat die navorser moes fokus op sekuriteitsondernemings in Gauteng. Die ideaal sou wees om op al die sekuriteitsondernemings in Suid-Afrika te fokus, maar die hulpbronne soos finansiële bystand was beperk.
Sustainable Development Goals
Description
MCom, North-West University, Potchefstroom Campus, 2018
