NWU Institutional Repository

Onderwysers in openbare skole se vryheid van uitdrukking ten opsigte van religieuse en nie-religieuse oortuigings

Loading...
Thumbnail Image

Date

Journal Title

Journal ISSN

Volume Title

Publisher

North-West University (South Africa)

Record Identifier

Abstract

Suid-Afrika staan bekend as 'n reënboognasie met ʼn verskeidenheid van religieë, oortuigings en menings. Vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening in skole word vergesel van 'n unieke stel uitdagings aangesien leerders, onderwysers en kollegas met verskillende religieë, oortuigings en menings in dieselfde skoolomgewing funksioneer. Sodanige verskille kan spanning veroorsaak en godsdiensbeoefening, die skoolkurrikulum en sosialisering van leerders met ʼn sekere oortuiging affekteer. Onderwysers se vrye uitdrukking van hulle wêreldbeskouing kan deur die volgende siening beïnvloed word: die leerder word as 'n unieke persoon binne ʼn diverse skool beskou, en die onderwyser word as verteenwoordiger van die staat beskou. Vrees en onsekerheid kom voor onder onderwysers dat hulle vryheid van uitdrukking ten opsigte van religieuse en nie-religieuse oortuiging beperk kan word ter wille van die beskerming van leerders se religie verwante regte. Gevolglik word 'n situasie geskep waar onderwysers nie die skoolomgewing as veilig ag om hulle godsdiens, oortuigings en menings uit te druk nie. Regs-, menseregte- en religieuse geletterdheid is noodsaaklike bestanddele van geborgenheid en opvoedersekuriteit, bevordering van menseregte en die beskouing van diversiteit as ʼn aanwins. Laasgenoemde drie word beskou as bydraend tot ʼn inklusiewe skoolomgewing. Inklusiwiteit dra om die beurt weer by tot geborgenheid en opvoedersekuriteit, bevordering van menseregte en die beskouing van diversiteit as ʼn aanwins. Vanuit ʼn regsraamwerk word daar geredeneer dat die onderwyser die plig opgelê word om ʼn verteenwoordiger en bevorderaar van die Grondwet te wees. Sodanige verantwoordelikheid plaas groter druk op onderwysers om hulle eie oortuigings binne die voorgestelde grense uit te druk. Onderwysers moet hulle vryheid van uitdrukking ten opsigte van religieuse en nie-religieuse oortuiging beoefen met die wete dat hulle in die skoolomgewing as voorbeeld dien en hoewel hulle diverse oortuigings het, hulle optrede op die grondwetlike waardes van vryheid, gelykheid en waardigheid gegrond moet wees. ʼn Gelyktydige gemengde metode navorsingsontwerp met kritiese realisme as onderliggende vertrekpunt is gebruik. Die kwantitatiewe data is aangevul met kwalitatiewe data wat uit oopeinde-vrae bestaan het. Die data is tegelyk ingesamel en is tydens die data-analise byeengebring. ʼn Literatuurstudie is uitgevoer en temas uit die literatuur is gebruik om ʼn vraelys te ontwikkel. Die vraelys het ten doel gehad om ondersoek in te stel na konflik wat moontlik kan ontstaan in ʼn vrye omgewing bestaande uit mense met diverse oortuigings en hoe onderwysers hulle reg op vryheid van godsdiens en vryheid van uitdrukking ten opsigte van religieuse en nie-religieuse oortuiging in openbare skole ervaar. Beskrywende en inferensiële statistieke is gebruik. Die empiriese ondersoek het gefokus op die ervaring van onderwysers in openbare skole betreffende hulle vryheid van uitdrukking ten opsigte van religieuse en nie-religieuse oortuiging. Demografiese inligting oor die deelnemende skole en die onderwysers wat aan die studie deelgeneem het, is ingesamel. Verdraagsaamheid teenoor die individu asook respek teenoor individue met verskillende oortuigings is ondersoek. Ondersoek is ingestel na die assosiasies wat deelnemers met sekere konsepte van vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening gemaak het; vryheid van uitdrukking en wat die deelnemers as hulle reg op vryheid van uitdrukking beskou het; en hoe wetgewing na hulle mening hulle regte beskerm het. Die bevindinge toon dat onderwysers as rolspelers in die skoolomgewing ʼn belangrike rol speel in die toepassing van wetgewing. Die bevindinge het ook uitgelig hoe hulle die aard en strekking van hulle regte ervaar het. Dit blyk uit die data dat die deelnemers in die Lejweleputswa-distrik nie werklik in hierdie opsig onder druk verkeer het nie. Verder wys die data daarop die deelnemers andere met oortuigings wat van hul eie verskil het as "the other" gesien het en verkies het om óf daardie persone met hulle eie oortuiging te integreer óf te eerder vermy.

Sustainable Development Goals

Description

MEd (Onderwysreg), North-West University, Potchefstroom Campus

Citation

Collections

Endorsement

Review

Supplemented By

Referenced By