NWU Institutional Repository

'n Raamwerk vir strategiese interne kommunikasiebestuur in Suid-Afrika, gebaseer op huidige tendense

Loading...
Thumbnail Image

Date

Journal Title

Journal ISSN

Volume Title

Publisher

North-West University (South Africa)

Record Identifier

Abstract

Gesonde, wedersyds-voordelige verhoudings met interne belangegroepe binne die organisasie is van kardinale belang vir organisatoriese oorlewing, om langtermyn korporatiewe doelwitte te bereik en om waarde vir beide die organisasie en die interne belangegroepe te verseker. Verder het die interne belangegroepe nodig dat topbestuur aandag aan hulle behoeftes, menings en insette gee, sodat hulle kan deel in besluitneming en betrek word by strategiese organisatoriese beplanning. Daarvoor behoort organisasies interne kommunikasie strategies te bestuur. Daar word betoog dat kommunikasie met interne belangegroepe doeltreffend sal geskied as dit ʼn tweerigting simmetriese benadering volg. Die Suid-Afrikaanse omgewing word as onbestendig, onseker, ingewikkeld en dubbelkantig bestempel. Daarmee saam het verskeie nuwe tendense, soos byvoorbeeld die ontwikkeling van nuwe kommunikasietegnologieë en die implementering daarvan, die manier waarop organisasies met interne belangegroepe kommunikeer, verander het. Dié unieke, diverse en gekombineerde Suid-Afrikaanse konteks bied verskeie uitdagings vir organisasies wat verder ʼn direkte invloed op interne belangegroepe en daaropvolgend op interne kommunikasiebestuur het. Daarom het die interne kommunikasietendense duidelikheid en riglyne nodig om die komplekse Suid-Afrikaanse omgewing waarmee organisasies tans te make het, aan te spreek. Teen hierdie agtergrond is hierdie studie daarop toegespits om strategieë voor te stel wat spesifiek die volgende konsepte duidelik maak: (i) wie as interne belangegroepe uitgewys word; (ii) die kanale wat vir interne kommunikasie gekies is en hoe dit benut word; en (iii) hoe interne kommunikasie bestuur word om die verhoudings met interne belangegroepe te kan handhaaf. Hierdie studie is gedoen teen die agtergrond van die sisteembenadering en die reflektiewe paradigma, wat ondersteun word deur tweerigting-simmetriese kommunikasie as metateorie. Verder is die volgende teorieë ingespan: uitnemendheidsteorie, belangegroepverhoudings-bestuurteorie, strategiese kommunikasiebestuursteorie, tegnologiese aanvaardingsmodel, gebruik-en-beloningsteorie, en die bedryfspelverskynsel. Die multidimensionele teoretiese raamwerk is spesifiek so gekies om die komplekse navorsingskonteks te akkommodeer. Verder is daar in hierdie kwalitatiewe studie in-diepte semi-gestruktureerde onderhoude gevoer met tien interne kommunikasiepraktisyns by die Top-500 maatskappye in Suid-Afrika, sowel as met agt interne kommunikasiekonsultante in Suid-Afrika. Die deelnemers is deur die doelgerigte steekproefmetode, asook verder deur die sneeubal steekproefmetode gekies. Hierdie deelnemers is verantwoordelik vir interne kommunikasiebestuur by makro Suid-Afrikaanse organisasies in verskeie sektore. Die doel was om die operasionele en strategiese interne konteks van interne kommunikasie by Suid-Afrikaanse organisasies te verstaan en om hulle benadering tot, asook implementering van interne kommunikasiebestuur te bepaal. Verder is die riglyne vanuit die literatuur vergelyk met inligting oor die veranderende interne kommunikasie landskap in Suid-Afrika, asook met die data wat deur die onderhoude ingesamel is, om sodoende ʼn volledige blik oor die interne kommunikasie neigings, uitdagings en praktyke daarvan te bekom. Opsommend is bevind dat Suid-Afrikaanse organisasies vele pogings aanwend om interne kommunikasie suksesvol te bestuur, maar slegs in sekere van die vereistes van kommunikasie en verhoudingbou, soos dit in die literatuur daargestel is, voldoen. Daar is dus ruimte vir verbetering. Dit blyk dat die onbestendige en diverse Suid-Afrikaanse omgewing ʼn groot rol speel binne die organisasies en in die uitvoering van interne kommunikasie. Verder word dit benadruk dat interne kommunikasiebestuur ʼn komplekse en ingewikkelde sub-dissipline is wat voortdurend verander. Gevolglik moet heelwat verbeterings en wysigings aan die subdissipline van interne kommunikasie aangebring word. Daarom stel hierdie studie moontlike strategieë aan organisasies voor waarvolgens ʼn raamwerk daargestel word om interne kommunikasie te bestuur, gegewe die vele uitdagende tendense in Suid-Afrika wat ʼn invloed op die interne konteks het.

Sustainable Development Goals

Description

PhD (Kommunikasiestudies), North-West University, Potchefstroom Campus

Citation

Collections

Endorsement

Review

Supplemented By

Referenced By