NWU Institutional Repository

Die visuele retoriek van SpaceX se ruimteprojekte: ’n posthumanistiese kritiek

Loading...
Thumbnail Image

Researcher ID

Supervisors

Journal Title

Journal ISSN

Volume Title

Publisher

North-West University

Record Identifier

Abstract

Hierdie verhandeling onderneem 'n kritiese ondersoek na die visuele retoriek en ideologiese narratiewe wat met kontemporêre kommersiële ruimteverkenning gepaardgaan. Die spesifieke fokus is op SpaceX se verbeelding van die ruimte soos dit in hul ruimteprojekte en gepaardgaande beeldmateriaal vergestalt. In onlangse jare speel private lugvaartmaatskappye soos SpaceX 'n belangrike rol in die vorming van die diskoers en beeldmateriaal van die sogenaamde Nuwe Ruimtewedloop. Deur grootskaalse media-veldtogte, beeldvormende kunswerke en dokumentêre films dra SpaceX by tot die konstruksie van kulturele narratiewe oor die mens se toekoms in die ruimte. Hierdie studie maak gebruik van kritiese posthumanistiese teorie ten einde die humanistiese en antroposentriese aannames bloot te lê wat in SpaceX se narratiewe en visuele voorstellings van die ruimte ingebed is. Daar word spesifieke aandag geskenk aan Tristan Eaton se kunswerk, Human Kind (2020), die Inspiration4-missie en die #dearMoon-projek. Die navorsing plaas hedendaagse kommersiële ruimtevaart binne 'n breër historiese, geopolitieke, sosio-ekonomiese en omgewingskonteks. Met inagneming van die historiese konteks waarin hedendaagse ruimteverkenning plaasvind, word daar teruggegryp na vroeë ontdekkingsreise en visuele voorstellings wat daaruit voortgespruit het en dikwels in Westerse modernistiese ideologieë van vooruitgang, uitbreiding en verowering ingebed was. Voorts verwys die studie na die rol van propaganda tydens die ruimtewedloop van die Koue Oorlog. Deur hierdie historiese perspektiewe te betrek, toon die studie aan hoe kontemporêre ruimteverkenning en die verbeelding daarvan in die visuele kultuur wat met SpaceX se ruimteprojekte verband hou, moontlik voortbou op ideologiese patrone wat in vroeë narratiewe van verkenning en ontdekking (veral ten opsigte van die ruimte) gevestig is. Spesiale aandag word geskenk aan die wyses waarop die beeldmateriaal met betrekking tot die ruimte gevestigde narratiewe van vooruitgang, uitbreiding, tegnologiese bemeestering en menslike uitsonderlikheid reproduseer. Die ondersoek maak gebruik van kritiese posthumanistiese teorie, insluitende die werk van eietydse denkers soos Rosi Braidotti en Francesca Ferrando, asook die assemblage-teorie van Gilles Deleuze en Félix Guattari. Die kernkonsepte wat posthumanistiese teorie onderlê, naamlik post-humanisme, post-antroposentrisme en post-dualisme, word benut ten einde die humanistiese en antroposentriese aannames wat in die visuele retoriek van SpaceX se ruimteprojekte ingebed is, te bevraagteken. Ek voer aan dat SpaceX se narratief van ruimteverkenning as noodsaaklike, opwindende en selfs humanitêre projekte voorgehou word, maar dat die verbandhoudende visuele retoriek en beeldmateriaal (wat veronderstel is hierdie narratief te ondersteun) koloniale verbeeldings, tegnologiese bemeestering en kapitalistiese aspirasies ten opsigte van die ruimte voortsit. Terselfdertyd word breër ekologiese, etiese en planetêre vraagstukke wat met die Antroposeen verband hou, dikwels in hierdie visuele narratiewe gemarginaliseer. 'n Kritiese visuele ontleding van geselekteerde visuele retorieke en beeldmateriaal wat met SpaceX-projekte verband hou, toon hoe visuele kultuur 'n belangrike rol speel in die vorming van publieke persepsies van ruimtevaart deur spesifieke verbeeldings van die mensdom se toekoms buite die aarde te normaliseer - terwyl alternatiewe perspektiewe versluier word. Uiteindelik argumenteer ek dat 'n posthumanistiese perspektief 'n belangrike raamwerk bied ten einde die mensdom se verhouding met die ruimte te heroorweeg. Deur verby humanistiese en antroposentriese raamwerke te beweeg en die verweefdheid tussen mense, tegnologieë, planetêre stelsels en kosmiese omegewings te heroorweeg, lewer my studie 'n bydrae tot kontemporêre gesprekke oor die kulturele en etiese implikasies van kommersiële ruimteverkenning.

Sustainable Development Goals

Industry, Innovation and Infrastructure, Climate Action, Responsible Consumption and Production, Peace, Justice and Strong Institutions

Description

Verhandeling (MA(Kunsgeskiedenis))--Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, 2026

Citation

Endorsement

Review

Supplemented By

Referenced By