NWU Institutional Repository

Die versoeking van Jesus volgens Hebreërs 2:18 en 4:15: ̓n Eksegetiese studie

Loading...
Thumbnail Image

Date

Researcher ID

Supervisors

Journal Title

Journal ISSN

Volume Title

Publisher

North-West University (South-Africa)

Record Identifier

Abstract

Op grond van die Skrif bely die kerk dat Jesus Christus tegelykertyd God en mens is. In Hebreërs 2:18 en 4:15 noem die Hebreërskrywer dat Hy in alle opsigte soos sondaarmense versoek is. Die vraag is: Kan Jesus Christus as volkome God en volkome sondelose mens in alle opsigte soos sondaarmense versoek of beproef (vanaf die werkwoord πειράζω) word? Dit is moeilik om die vraag te antwoord aangesien daar in die bestaande navorsing onsekerheid oor die betekenis van die werkwoord πειράζω in Hebreërs 2:18 en 4:15 heers. Baie akademici veronderstel bloot dat die werkwoord πειράζω in Hebreërs 2:18 en 4:15 op Jesus se versoeking dui. Ander akademici veronderstel dat die werkwoord πειράζω in Hebreërs 2:18 en 4:15 op Jesus se beproewing dui. Hierdie onsekerheid heers aangesien beide "versoek" en "beproef" binne die semantiese betekenisveld van die werkwoord πειράζω val. Beide betekenisse van hierdie woord is teologies korrek. Die vraag is egter wat die outeursbedoeling met die gebruik van die woord in die Hebreërpreek was. Hierdie studie het onderneem om sekerheid rakende die betekenis van die werkwoord πειράζω in Hebreërs 2:18 en 4:15 te bring. Hierdie studie is verdeel in ses hoofstukke, waarvan Hoofstuk 1 as inleiding dien. Hoofstuk 2 fokus op die sogenaamde inleidingsvrae van die Hebreërpreek. Hoofstuk 3 fokus op die identiteit van Jesus in Hebreërs. Hoofstuk 4 ontgin die betekenismoontlikhede van die werkwoord πειράζω, en waar van toepassing, die verwante selfstandige naamwoord πειρασμός, oor 'n breë spektrum van literatuur. Hoofstuk 5 doen ʼn eksegetiese ondersoek na die bepaalde perikope in die Hebreërpreek waarbinne die πειράζω-lekseem voorkom. Hoofstuk 6 bespreek die resultate. Die resultaat van die studie dui op die volgende vertalings van die twee verse wat sentraal staan tot die ondersoek: Hebreërs 2:18: "Want omdat Hy self gely het toe Hy versoek is, is Hy in staat om die wat versoek word te help," en Hebreërs 4:15: "Want ons het nie ʼn hoëpriester wat nie in staat is om simpatie met ons swakhede te kan hê nie, maar Een sonder sonde, wat soortgelyk aan ons, in alle opsigte versoek is". Die outeursbedoeling met die gebruik van die werkwoord πειράζω in Hebreërs was nie om 'n tematiese teologie van beproewing daar te stel nie. Die betekenis met verwysing na Jesus dui op versoeking. Jesus se versoeking wat in alle opsigte soos ander mense is, dui nie op identiese versoekinge in elke opsig nie. Dit dui daarop dat Jesus in alle opsigte mens geword het soos ander mense. Daar is uitsonderings rakende Jesus se versoeking, naamlik dat Hy sondeloos is en sondelose begeertes het. Daar is volgens Hebreërs ook uitsonderings rakende Jesus se menswees: Hy is ook God, Hy besit onvernietigbare lewe, Hy het uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar. Hierdie studie dra by tot die veld van Nuwe-Testamentiese teologie deur die betekenismoontlikhede van πειράζω in bestaande literatuur uit te lig, 'n beter verstaan van Jesus se identiteit in die Hebreërpreek te kry, en die belangrikste van alles, om die outeursbedoeling met die werkwoord πειράζω in Hebreërs 2:18 en 4:15 te ondersoek om te verstaan hoe Jesus in alle opsigte soos mense versoek is.

Sustainable Development Goals

Description

Thesis (MA-M.A. (Nuwe Testament)) -- North-West University, Potchefstroom Campus

Citation

Endorsement

Review

Supplemented By

Referenced By