Storievertelling as onderrigstrategie ter versterking van gemeenskapsidentiteit
Loading...
Date
Authors
Van der Vyver, C.
Researcher ID
Supervisors
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
North-West University
Record Identifier
Abstract
Die navorser het 'n bruingemeenskap in die Wes-Kaap waargeneem wat gebuk gaan onder 'n negatiewe identiteit veroorsaak deur armoede en al die sosio-ekonomiese probleme rakende armoede, soos beleef deur heelwat gemeenskappe in Suid-Afrika. Dit was nodig vir die deelnemers aan hierdie studie om opnuut na te dink oor hul eie belewinge van die storie oor hulleself, want hulle is en word die storie wat hulle vertel. Indien dit dan moontlik is om hul identiteit deur middel van hul stories (taal) bloot te lê kan veral die positiewe uit hul eie stories (taal) op die voorgrond tree om hierdie gemeenskap se identiteit daardeur te versterk. Die probleemvraag wat in hierdie studie ondersoek is, was: Hoe kan storievertelling as onderrigstrategie aangewend word ter versterking van gemeenskapsidentiteit? Daar is gepoog om die primêre doel van hierdie studie te bereik deur middel van die volgende sekondêre doelstellings wat vir die studie gestel is, naamlik (1) om die samehang vas te stel tussen identiteit en 'n bepaalde gemeenskap se stories; (2) om vas te stel hoe hierdie stories as strategie aangewend kan word om die negatiewe identiteit van 'n die bepaalde gemeenskap bloot te lê; (3) om vas te stel hoe storievertelling as strategie aangewend kan word om 'n positiewe identiteit van die gemeenskap te voorskyn te roep; (4) om die bydrae wat storievertelling tot die konstruering van gemeenskapsidentiteit lewer, te bepaal; en (5) om vas te stel hoe storievertelling as onderrigstrategie aangewend kan word om 'n storievertelkultuur te vestig ter versterking van gemeenskapsidentiteit. 'n Kwalitatiewe navorsingsmetodologie is gevolg deur gebruik te maak van PALAR (Participatory Action Learning and Action Research). Die lewensverhale van die deelnemers is volgens hierdie metodologie aan die hand van, onderhoudvoering Photovoice-aktiwiteite, joernaalinskrywings asook die navorser se waarnemings wat deur middel van veldnotas opgeteken is, ingesamel. Die ingesamelde data is geanaliseer deur gebruik te maak van die sagtewareprogram ATLAS.tiTM. Die resultate is ooreenkomstig die studie se doelstellings bespreek in ? poging om die navorsing so volledig moontlik uit die bevindinge te beantwoord.. Die resultate soos verkry uit die literatuurstudie en die empiriese ondersoek is in ag geneem by die implementering van storievertelling as onderrigstrategie. - Die samehang tussen identiteit en 'n bepaalde gemeenskap se stories: Daar bestaan 'n samehang tussen die identiteit van die deelnemer en die konteks(te) waarin die stories van 'n gemeenskap gekonstrueer word. Die storievertellings geskied deur die deelnemer(s) self en uit die storievertellings kan die deelnemer(s) se ervaringe afgelei word asook dié van die individu se interaksies in die mikro-sisteem. Die mesosisteem behels die verhouding tussen die mikrosisteme in die individu se lewe, en uit die vertellings kon afgelei word dat gebeure wat die individu ervaar, die individu se verhouding met ander rolspelers beïnvloed. Indien storievertelling in 'n bepaalde mikrosisteem ontwikkel word, kan storievertelling as oplossing dien waar sosiale probleme soos armoede 'n invloed op die individue uitoefen. In die ekosisteem waar 'n skakel bestaan tussen die konteks waarin die individu geen aktiewe rol speel nie, en die konteks waarin hy/sy aktief deelneem, het storievertelling faktore wat individue beïnvloed na vore gebring (byvoorbeeld ouers se werkplek, gesin se sosiale netwerke en die gemeenskap). Storievertellings het die makrosisteem, die kultuur waarin die individu leef, byvoorbeeld gewoontes, tradisies, die ekonomie, gesondheidsdienste, onderwys en waardes, beskryf. - Storievertelling as strategie om die negatiewe identiteit van die bepaalde gemeenskap bloot te lê Daar is bevind dat die individu nie verstaan wie hy/sy is as sy/haar lewe geen storie vorm nie, want stories is nie net iets wat mense vertel nie, maar ook gebeure wat mense beleef het. Uit die deelnemers se storievertellings het dit duidelik geword dat die gemeenskapslede (deelnemers) afhanklik is van mekaar op materiële sowel as emosionele vlak as gevolg van die gebrokenheid waargeneem uit gesinskonstrukte en armoede (op alle vlakke -- materieel en emosioneel), asook die sosio-ekonomiese verval wat armoede meebring. Die groep wat as entiteit beskou word (gemeenskap) verdryf onsekerheid by die self deur immorele en slegte gebruike voor te skryf. Deelnemers se storievertellings het die internalisering van simptome (depressie en angs) sowel as die eksternalisering van simptome na vore gebring, onder andere dwelm- en drankmisbruik en seksuele risiko's. Afwesige ouerlike ondersteuning het 'n aansienlike invloed op die konstruksie van die individu se identiteit, soos bevestig uit die storievertellings van die deelnemers. - Storievertelling as strategie om positiewe identiteit van 'n gemeenskap op die voorgrond te plaas. Uit die deelnemers se storievertellings het dit bekend geword dat gebeure en handeling rondom die individu destruktief kan wees, maar mettertyd positief beskou en beleef kan word. Heelwat van die deelnemers het nie die positiewe elemente in hul lewens herken voordat hulle dit in hul storievertellings gekommunikeer het nie. Dit is veral die positiewe karaktereienskappe, vermoëns en vaardighede van die deelnemers wat deur hul storievertellings blootgelê word. Geloof speel in heelwat van die deelnemers se lewens 'n prominente rol, en dien as oplossing vir restourasie. Dit is dan ook veral geloof wat vir hulle insig gee in al die problematiese aspekte van hul lewens. Uit die storievertellings is ook bevind dat die fokus op die individu se geloof moet wees en nie op die individu self nie. Die deelnemers se drome is deur hul storievertellings openbaar. Die ryk leksikon waarin hulle hul vertellings oorgedra het, is as deel van hul identiteit geïdentifiseer. - Die bydrae wat storievertelling tot die konstruksie van gemeenskapsidentiteit lewer, is dat storievertelling openbaar wie die storievertellers is. Wanneer storievertelling die denkpatroon van die gemeenskap op die positiewe rig, kan die gemeenskap hul leefwyse dienooreenkomstig inrig en hul wêreldbeskouing daarvolgens aanpas. - Storievertelling as onderrigstrategie om 'n storievertelkultuur te vestig ter bevordering van gemeenskapsidentiteit. Storievertelling beskik oor heelwat eienskappe wat dit as onderrigstrategie geskik maak. Dat storievertelling as strategie nie in afsondering kan bestaan nie, maar deel moet uitmaak van 'n bestaande strategiese plan van byvoorbeeld die skool. Dat 'n vennootskap gestig moet word wat op storievertelling as bate fokus,. Die vestiging van 'n storievertelkultuur kan as onderrigstrategie beskou word wat deur mentors gevolg word. Hierdie mentors moet met omsigtigheid gekies word vir die sukses van die vennootskap sowel as die volhoubaarheid van storievertelling as onderrigstrategie.
Sustainable Development Goals
Description
PhD (Curriculum Development), North-West University, Potchefstroom Campus
