The recognition and enforcement of international commercial arbitration awards in a South African context
Abstract
Internasionale handel het die afgelope tien jaar in Suid-Afrika met rasse skrede toegeneem. Hierdie toename is toe te skryf aan die opheffing van sanksies teen Suid-Afrika sowel as die effek van globalisering.
Verskeie jurisdiksies kan geraak word met 'n enkele internasionale handelstransaksie. Wanneer daar 'n dispuut ontstaan, wend partye hul toenemend tot internasionale kommersiële arbitrasie om sodanige dispuut te besleg. Hierdie wyse van dispuutbeslegting se prosedures is veel buigsamer as die van 'n hof en is dus meer aanvaarbaar vir kommersiële partye. Dit is dan ook vir Suid-Afrika van kardinale belang dat wetgewing in plek moet wees om internasionale kommersiële arbitrasies te akkommodeer. Verskeie lande se jurisdiksies het elkeen afsonderlike regsreëls, -beginsels en -prosedures waarvolgens beslissings gemaak word. Dit skep 'n probleem wanneer partye binne twee of meer jurisdiksies handel deurdat verskillende reëls wat op dieselfde feite toegepas word, verskillende uitkomste sal hê. lnternasionale konvensies het die lig reeds in 1927 gesien met die Geneefse Konvensie om hierdie probleem aan te spreek. In 1954 is die New York Konvensie daargestel met die doel om internasionale kommersiële arbitrasietoekennings wêreldwyd te erken en af te dwing. Suid-Afrika het egter eers in 1976 hierdie konvensie onderteken. Wetgewing is ooreenstemmend aangeneem in 1977 deur die promulgering van die Erkenning en Afdwinging van Buitelandse Toekennings Wet 40 van 1977. Ongelukkig is hierdie wet defektief en word daar glad nie geslaag in die doel waarvoor die wet oorspronklik aangeneem is nie welke aspek meer volledig behandel word in die inhoud van die skripsie. Gevolglik word die Arbitrasie Wet 42 van 1965 tot 'n beperkte mate toegepas in internasionale kommersiële arbitrasies, aangesien daar nie uitdruklik voorsiening gemaak word vir hierdie wyse van dispuutbeslegting in die wet nie en hoofsaaklik ingestel is op plaaslike arbitrasie. Partye kan ook hierdie wet misbruik in 'n internasionale konteks om die arbitrasieproses te vertraag. Die Suid-Afrikaanse Regskommissie het hierdie probleem aangespreek deur die Modelwet vir internasionale kommersiële arbitrasie te ondersoek wat opgestel is deur UNCITRAL. 'n Konsepwet wat aangepas is vir Suid-Afrikaanse omstandighede is reeds in 1998 voorgestel spesifiek vir die doel om internasionale kommersiële arbitrasie effektief te administreer en te bevorder. Uit bostaande is dit duidelik dat huidige wetgewing in Suid-Afrika nie voorsiening vir internasionale kommersiële arbitrasie maak nie. Suid-Afrika speel 'n toenemende prominente rol in internasionale handel en die effek van ontoereikende wetgewing kan internasionale rolspelers afskrik. Deur hierdie studie word dit duidelik geïllustreer dat dit uiters noodsaaklik is dat die Konsepwet gepromulgeer word wat gevolglik voordelig vir die ekonomie sowel as die regstelsel van Suid-Afrika sal wees.
Collections
- Law [795]