Common law perspectives on the concept of public trusteeship
Abstract
Die konsep van staatlike voogdyskap of “public trusteeship” word sedert 1998 gevind in wetgewing wat handel oor die omgewing en natuurlike hulpbronne. Hierdie begrip is nuut in die Suid–Afrikaanse reg. Die navorsingsvraag wat hierdie studie onderlê is of die konsep van “public trusteeship” ontwikkel het uit of enigsins verbind kan word met die gemeenregtelike begrippe res publicae en res omnium communes. Uit die studie word dit duidelik dat res omnium communes daardie sake is wat “aan alle mense toegeskryf word, maar aan niemand behoort nie". Res publicae weer, is 'n kategorie van sake wat aan ’n hele burgerlike gemeenskap behoort, en word dikwels verwys na as staatseiendom. Beide
hierdie kategorieë van sake is nie vatbaar vir privaat eiendomsbesit nie, hoewel individuele eenhede daarvan wel toegeëien kan word. ‘n Studie van die wetgewing waarin die konsep van staatlike voogdyskap in een of ander vorm vervat is, dui sekere algemene kenmerke aan. In die relevante statute word die staat of nasionale regering aangestel as die openbare trustee van ‘n spesifieke natuurlike hulpbron of die omgewing. Die staat of nasionale regering staan dus as openbare trustee in 'n fidusiêre verhouding teenoor die publiek. Dit is die openbare trustee se verantwoordelikheid om die hulpbronne te beskerm en te ontwikkel en om op te tree in die belang van die mense van Suid–Afrika. Die onderskeie begunstigdes teenoor wie die fidusiêre verpligting uitgevoer moet word, word in die verskillende wette gedefinieer. Alle partye se regte en verantwoordelikhede word ook in die toepaslike wetgewing uiteengesit. Die studie het aangetoon dat hoewel daar ooreenkomste in die regsimplikasies van die gemeenregtelike begrippe res omnium communes en res publicae en die breë konsep van staatlike voogdyskap of openbare trusteeskap aangetref word, die konsep van staatlike voogdyskap nie vanuit die Suid–Afrikaanse gemenereg ontwikkel het nie. Dit is ‘n nuwe konsep wat slegs binne die woorde van betrokke statute uitgelê en toegepas kan word.
Collections
- Law [834]