dc.description.abstract | Oorloë bring verskillende soorte lyding vir burgerlikes. Militêre optredes lei dikwels tot die
verwoesting van gemeenskappe en laat burgerlikes nie alleen dakloos nie, maar ook
behoeftig. Gewoonlik word baie klem op die lot van die soldate en, soverre dit die Anglo-Boereoorlog aanbetref, veral die lot van die vroue en kinders in krygsgevangekampe, gelê.
Dit het daartoe gelei dat die wyse hoe die oorlog ook tot groot ontbering vir gewone
burgerlikes bygedra het en sommige van hulle in groot ellende gedompel het, in die
historiografie van die Oorlog afgeskeep is.
Die artikel beklemtoon die lot van daardie blanke burgerlikes van die Zuid-Afrikaansche
Republiek binne die breërraamwerk van "Oorlog en die Gemeenskap" studies. Die fokus
val op die rol van die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek om hulp en voorrade
aan behoeftige burgerlikes te verleen vanaf Oktober 1899 tot Mei 1900. Aspekte soos die
redes waarom die regering op sekere beleidsrigtings besluit het, die omvang van die
probleem, die aard van voorrade wat die regering aan behoeftiges voorsien het en
probleme om dit te bekom, die problematiek rondom identifikasie van wie werklik behoeftig
was sowel as ad hoc relings om by die veranderende oorlogsomstandighede aan te pas,
word ontleed.
'n Tweede fokuspunt is die behoeftes soos uitgespreek deur die behoeftiges en hul
reaksies op die pogings tot hulpverlening deur die regering. 'n Duidelike onderskeid is
gemaak tussen die behoeftes van stedelinge en plattelanders. Die effek hiervan word
ondersoek. Hul voortdurende klagtes dat hulle nie voldoende voorrade ontvang nie,
sowel as klagtes dat die stelsel waarvolgens voorrade voorsien is, misbruik is, word krities
ondersoek.
Uiteindelik moes die regering 'n moeilike balans vind tussen die behoeftes van die
vegtende burgers en die behoeftige burgers. Hoewel eersgenoemde vanuit 'n
oorlogsoogpunt gesien, hul eerste prioriteit was - en deurgaans gebly het - was stabiliteit
op die tuisfront net so belangrik ten einde die moraal van die burgers op die oorlogsfront
hoog te hou. Die onverkrygbaarheid van voorrade teen Mei 1900 sou egter alle pogings
tot balansering in die wiele ry. | en_US |