Tegniek as bemiddeling tussen lewensritme en kosmiese ritme?
Abstract
Die doel van hierdie artikel is om na te dink oor ’n merkwaardige
gebeurtenis waarin spitswetenskap en kuns mekaar ontmoet het: die astroseismologie
van Conny Aerts en die komposisie van Willem Boogman. Op die punt
van ontmoeting, tussen hierdie andersins uiteenlopende praktyke, is (1) ’n nadenke
oor ritme en ritmering, (2) wat tegnies bemiddel is en oor (3) die verhouding
tussen die alledaagse lewenswêreld en die enormiteit van die kosmos wat daardeur
getematiseer word. Nadat die agtergrond van hierdie ontmoeting uiteengesit
is, word ’n fenomenologiese analise van die komplekse weefsel van lewensritme
uitgewerk om aan te toon hoe laasgenoemde deur vertroudheid gevorm word
en wat die tegniese aard daarvan is. Daar word betoog dat ’n gelukkende lewenskarakter
hiervan afhanklik is. Lewensritme neem egter vorm aan onder druk van
sosiale interaksie en van kulturele intervensies. In ’n wêreld wat onder die invloed
van Westerse wetenskap staan, word mense se lewensoriëntering meesal gekenmerk
deur ’n verlies aan kosmiese lewensoriëntasie. Die vooruitsig dat hierdie
verlore band tussen die mens en die kosmos deur wetenskap of kuns (of albei)
herwin kan word, word aan kritiese nadenke onderwerp.