Die geskikte selekteringskriteria by Suid-Afrikaanse afleggings weens bedryfsvereistes : ʼn regsvergelykende studie
Abstract
Ontslag op grond van afleggings vind dikwels in ondernemings plaas. Die hoofredes vir afleggings in die werkplek is gebaseer op ekonomiese, strukturele en tegnologiese redes. Artikel 189(7) van die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 maak voorsiening daarvoor dat die konsulterende partye tydens konsultasie oor ʼn selekteringskriterium vir afleggings moet ooreenstem, maar in die afwesigheid van so ʼn ooreenkoms kan die werkgewer self ʼn selekteringskriterium identifiseer, met die vereiste dat dit ʼn billike en objektiewe selekteringskriterium moet wees. Sou sodanige selekteringskriteria nie billik en objektief wees nie, sal dit onvermydelik tot onbillike ontslag aanleiding gee. Die Kode vir Goeie Praktyk betreffende afleggings skryf voor dat LIEU (Laaste-In-Eerste-Uit) as vertrekpunt by afleggings aangewend moet word, maar voorsien die moontlikheid om van hierdie kriterium af te wyk waar nodig. Die Suid-Afrikaanse reg bied betreurenswaardig skrale leiding oor welke ander selekteringskriteria tot die werkgewer se beskikking is om sy unieke besigheidsbehoeftes of spesifieke vereistes aan sy werknemers gestel, aan te spreek. Dit bied ook weinig leiding oor die implementering daarvan. Die feit dat regspraak oor sommige aspekte betreffende selekteringskriteria verskil, bemoeilik die kwessie vir werkgewers selfs verder. Nodeloos om te sê werk hierdie leemte in die reg in hierdie opsig regsonsekerheid in die hand.
Die gebruik van ʼn spesifieke selekteringskriterium of meerdere kriteria, en die implementering daarvan, is in ander regstelsels gevestig. Hierdie studie ontleed spesifiek die regsposisies van die Verenigde Koninkryk (VK) en Nederland. Die betrokke regstelsels gebruik uiteenlopende kriteria en praktyke tydens afleggings, maar is elk in eie reg billik en objektief en kan leiding bied in die aanspreek van die leemtes soos in Suid-Afrika geïdentifiseer. Hierdie regstelsels bied egter oplossings en stappe vir die keuse en implementering van spesifieke selekteringskriteria.
In die VK word afleggings in die werkplek met behulp van wetgewing en regspraak gereguleer. Spesifieke aanvaarbare kriteria en praktyke is menigmaal deur die howe in hierdie regstelsel getoets, maar die howe berus hulle as ʼn reël by die toepassing van ʼn selection matrix tydens afleggings. Sodanige kriterium word uit ʼn versameling billike en objektiewe kriteria saamgestel, aan die hand waarvan werknemers by wyse van ʼn
puntetoekenningstelsel vir aflegging geselekteer word. Die howe en outeurs in hierdie regstelsel argumenteer dat om ʼn versameling geskikte kriteria te oorweeg, die enigste metode is waarop billikheid en objektiwiteit gehandhaaf kan word en waarop die seleksie van werknemers vir aflegging op ʼn gebalanseerde wyse benader kan word. Hierdie regstelsel skryf ook voor hoe die betrokke kriteria beoordeel en toegepas moet word om billik teenoor alle partye te wees.
In Nederland, aan die ander kant, word van ʼn spesifieke kriterium genaamd die afspiegelingsbeginsel gebruik gemaak. Dit is in hierdie regstelsel (en ook tot ʼn mate in Suid-Afrika) bevind dat die aanwending van LIEU in sy eenvoudigste vorm met sekere risiko's gepaardgaan. Die afspiegelingsbeginsel is ʼn vervorming van LIEU en poog om die vermelde risiko's aan te spreek. In hierdie studie is bevind dat dit effektief is in die voorkoming van indirekte ouderdomsdiskriminasie teenoor die jongste werknemers in ʼn onderneming en dat dit verhoed dat die werksmag verouder. Die afspiegelingsbeginsel kan gevolglik ook met vrug in die Suid-Afrikaanse reg gebruik word.
Wat betref spesifikasies sover dit die betrokke tema aangaan, bied die Internasionale Arbeidsorganisasie min leiding aan die lidstate daarvan, maar in hierdie studie is bevind dat bepaalde algemene verpligtinge wel in hierdie verband op Suid-Afrika as lidstaat van die IAO geplaas word. Hierdie verpligtinge kom in essensie daarop neer dat wanneer selekteringskriteria aangewend word, dit billik en objektief behoort te wees. In hierdie studie is bevind dat hierdie twee konsepte verband hou met onbevooroordeeldheid, onpartydigheid, die uitbalansering van belange, gelykheid en geregtigheid. In Suid-Afrika word wel in ʼn mate gepoog om aan die vermelde verpligtinge te voldoen, maar daar is beslis ruimte vir ontwikkeling om die regsposisie te versterk. In hierdie regsvergelykende studie word die leemtes en problematiek in die Suid-Afrikaanse reg betreffende selekteringskriteria tydens afleggings ondersoek en word aanbevelings te verbetering van die posisie met behulp van gevestigde goeie praktyke in die VK en Nederland gemaak.
Collections
- Law [826]