Die implementering van die Lewensvaardigheid Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring vir verstandelik erg gestremde leerders in skole vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes
Abstract
Die behoefte aan die ontwikkeling en implementering van die Lewensvaardigheid Kurrikulum- en
Assesseringsbeleidsverklaring vir verstandelik erg gestremde leerders (Lewensvaardigheid
KABV vir VEG leerders) het ontstaan na ’n hofuitspraak in die hofsaak Cape Forum for
Intellectually Disabled versus Government of the Republic of South Africa (2011). In hierdie
hofuitspraak is verklaar dat die Suid-Afrikaanse regering nie daarin geslaag het om redelike
maatreëls te voorsien vir die onderwysbehoeftes van VEG leerders en leerders met diepgaande
intellektuele gestremdheid (“profound intellectual disability”) in die Wes-Kaap nie. Die
Departement van Basiese Onderwys het in reaksie daarop twee kurrikulums ontwikkel: ’n
vaardigheids- en beroepskurrikulum vir leerders met matige intellektuele gestremdheid en die
ander ’n kurrikulum vir skole vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes op ’n vlak wat
toeganklik is vir VEG leerders. Hierdie navorsing fokus op die implementering van die Lewensvaardigheid KABV vir VEG
leerders. Die navorsing is gedoen by skole wat deel uitgemaak het van die aanvanklike
loodsprojek van die Departement van Basiese Onderwys. ’n Verduidelikende opeenvolgende
gemengde navorsingstudie is vanuit ’n oorkoepelende pragmatiese wêreldbeskouing
onderneem. Die post-positivistiese wêreldbeskouing was in die kwantitatiewe fase van
toepassing, en die sosiaal-konstruktiewe wêreldbeskouing in die kwalitatiewe fase. Die
kwantitatiewe fase van die studie het bestaan uit ’n selfontwikkelde vraelys wat aan 21 van die
genoemde loodsskole in al nege provinsies van Suid-Afrika gestuur is. Die navorsing het skole
uit ’n verskeidenheid ekonomiese kontekste betrek, van skole met baie hulpbronne tot skole met
’n tekort aan hulpbronne. In die kwalitatiewe deel van die navorsing is vier skole in verskillende provinsies gekies wat deel
was van die kwantitatiewe fase. ’n Kunsgebaseerde benadering is gevolg wat die maak van
collages ingesluit het. Die resultate van die kwantitatiewe fase is gebruik om oor die onderwerpe
vir die collages te besluit. Onderwerpe het aspekte soos hulpbronne, werkslading, opleiding,
tydsbestuur, assessering, tersaaklikheid vir die wêreld van werk, die moeilikheidsgraad van die
kurrikulum en die mening van die deelnemers oor die KABV vir VEG leerders en die drie
verskillende Lewensvaardigheidkurrikulums ingesluit. Drie tot vier fokusgroepbesprekings is
gehou by elk van die gekose skole waar die deelnemers die betekenis van hul collages bespreek
het. Met die ontleding van die data is die bevindings van die kwalitatiewe fase in drie kategorieë
verdeel: eerstens die mening van die deelnemers oor die KABV vir VEG leerders en die
verskillende afdelings van die Lewensvaardigheid KABV vir VEG leerders, tweedens die aspekte wat ’n invloed het op die implementering van die Lewensvaardigheid KABV vir VEG leerders en
laastens die invloed van die implementering van die KABV vir VEG leerders op die onderwysers. Die probleme en uitdagings wat uit hierdie fokusgroepbesprekings na vore gekom het, is
vervolgens bespreek met die bestuurspanne van die vier skole. Die bestuurspanne het
kommentaar gelewer op die probleme en uitdagings en oplossings voorgestel vir die probleme
wat die deelnemers aangedui het. Daar is gekonsentreer op drie kurrikulums: Aanvangskennis
en Persoonlike en Sosiale Welstand, Kreatiewe Kuns; en Liggaamsopvoeding. Alhoewel die implementering van die Lewensvaardigheid KABV vir VEG leerders oor die
algemeen suksesvol was, daar steeds probleme wat hanteer moet word. Die meeste van die
deelnemers en skoolbestuurspanne is dit eens dat dit goed is om ’n gestruktureerde kurrikulum
te hê wat vir onderwysers riglyne gee en van lesplanne voorsien sodat hulle weet wat van hulle
verwag word. Kwessies soos werkslading, assessering, tydsbestuur, hulpbronne en opleiding is
egter in sommige skole nog problematies. Met al die inligting wat in die kwantitatiewe en
kwalitatiewe fase asook in die besprekings met die skoolbestuurspanne ingesamel is, is ’n
handleiding vir beginneronderwysers saamgestel vir opleiding in die Lewensvaardigheid KABV
vir VEG leerders wat as die besonderse bydrae van die studie beskou kan word.
Collections
- Engineering [1424]
Related items
Showing items related by title, author, creator and subject.
-
Die verskuiwing van leerders na klasse vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes : 'n oorgangsteoretiese ondersoek
Louw, Johanna Gertruida (2014)The differences between all learners and the desire to build on the resemblances that do exist form the basis of inclusive education. In addition, due consideration is constantly given to the fact that all learners need ... -
Onderwysvoorsiening aan akademies–begaafde leerders in die intermediêre skoolfase in Suid–Afrika
Barkhuizen, Mindie (2013)The goal of this research was to determine how to productively provide in the unique needs of academically gifted learners in the intermediate phase in the South African education system. The study comprised an empirical, ... -
Die verband tussen leesvlotheid en leesbegrip van graad 4-leerders
O'Connor, Michelle (2014)Arising from the increasing demands of the twenty-first century workplace, concern over learner reading performance is at the forefront of national education. The increasing demands have raised the literacy bar for learners ...