Regsperspektiewe op gemeenskapsgebaseerde natuurbewaring in die bekamping van wildmisdaad in Suid-Afrika
Abstract
Wildmisdaad is ʼn kontemporêre biodiversiteitsbedreiging van antroposentriese oorsprong wat kommerwekkende vlakke van biodiversiteitsverlies veroorsaak. Sodanige misdaad verteenwoordig ʼn uiters gefragmenteerde omgewingsvraagstuk wat vanuit meerdimensionele, transnasionale, kruissektorale en interdissiplinêre perspektiewe benader kan word. Vanweë die nadelige impak wat wildmisdaad op die voortbestaan van biodiversiteit uitoefen, verleen internasionale, nasionale en streeksbeleidmakers voorrang aan die kwessie op omgewingsagendas. Teenstrydig hiermee bestaan daar tans geen klinkklare definisie, toonaangewende internasionale verdrag of ʼn aanbevole bekampingstrategie waarvolgens lande die beste praktyk kan vasstel om wildmisdaad op nasionale bodem te bekamp nie. Te midde van vele tekortkominge en onsekerheid, word lande aangemoedig om in die tussentyd bestaande verbandhoudende regsinstrumente, maatreëls en hulpbronne ten volle te benut om wildmisdaad te bekamp en nie die potensiaal wat innoverende alternatiewe oplossings inhou te misken nie. Gemeenskapsgebaseerde natuurbewaring word as ʼn alternatiewe oplossing voorgestel om wildmisdaad op voetsoolvlak te bekamp aangesien dit ʼn buigsame bestuursbenadering verteenwoordig waar gemeenskappe bemagtig word om in samewerking met die regering aan biodiversiteitsbestuur deel te neem. Die rol van gemeenskappe in natuurbewaring word al meer op positiewe manier beskryf en kenners erken dat gemeenskappe se teenwoordigheid op voetsoolvlak en hul tradisionele kennis van die omgewing tot voordeel van die formulering van praktiese, koste-effektiewe en innoverende alternatiewe oplossings tot natuurbewaring kan strek. Ten spyte van voorstelle en oproepe van dié aard, ontbreek daar tans duidelike internasionale riglyne of ʼn voorgestelde regsraamwerk vir die sinvolle implementering en operasionalisering van inisiatiewe wat gemeenskappe by die bekamping van wildmisdaad betrek. Vanweë Suid-Afrika se ryk biodiversiteit, kom wildmisdaad daagliks hier voor. Suid-Afrika hanteer die bekamping van wildmisdaad ingevolge die land se nasionale omgewingsregraamwerk, wat hoofsaaklik op bepalings van die National Environmental Management Act 107 van 1998; die National Environmental Management: Biodiversity Act 10 van 2004; die National Environmental Management: Protected Areas Act 57 van 2003; verbandhoudende regulasies; provinsiale wetgewing; en munisipale verordeninge berus. Die Suid-Afrikaanse omgewingsregraamwerk volg hoofsaaklik bevel- en beheermaatreëls om wetgewende bepalings af te dwing en die nakoming daarvan te bewerkstellig. Tans word gemeenskapsgebaseerde natuurbewaring nie uitdruklik as ʼn alternatiewe oplossing tot die bekamping van wildmisdaad in Suid-Afrikaanse reguleringsmaatreëls erken, aanbeveel of definieer nie. Dit blyk egter dat Suid-Afrika oor ʼn aantal regsbepalings en doelwitte beskik wat verspreid in verskeie wetgewing, regulasies, strategieë en beleide voorkom en onder verskeie regeringsdepartemente verdeel is, wat die deelname van gemeenskappe aan biodiversiteitsbestuur onderskraag en as beginpunt gebruik kan word. Gevolglik is die oorkoepelende primêre doelwit van die studie om te bepaal hoe gemeenskapsgebaseerde natuurbewaring as ʼn alternatiewe oplossing kan bydra tot die versterking van bestaande reguleringsmaatreëls wat Suid-Afrika tans gebruik om wildmisdaad te bekamp.
Collections
- Law [832]