Hoe onpersoonlijk is persoonlijk?: Een contrastief corpusonderzoek van de Afrikaanse en Nederlandse persoonlijke voornaamwoorden jy/je en hulle/ze
Loading...
Files
Date
Authors
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
Abstract
Die gebruik van die Afrikaanse persoonlike voornaamwoorde jy en hulle is nie so voor die hand liggend soos dit mag lyk nie. Soms kan hierdie persoonlike voornaamwoorde ook verwys na 'n referent wat nié bekend is nie. In hierdie gevalle is daar sprake van ʼn onpersoonlike gebruik van persoonlik voornaamwoorde. Daar is verskillende woorde of konstruksies wat vir onpersoonlike verwysing gebruik kan word. Die feit dat die persoonlike voornaamwoorde jy en hulle ook onpersoonlik gebruik kan word, is egter tot heel onlangs nog nie juis deur Afrikaanse taalkundiges nagevors nie, en dié gebruik kom derhalwe ook nie juis aan bod in Afrikaanse grammatikas nie. Meer onlangse navorsing toon egter aan dat die gebruik van jy en hulle in verskeie onpersoonlike kontekste deur taalgebruikers as aanvaarbaar beskou word. Die studie sluit by hierdie bevindinge aan deur die werklike gebruik van jy en hulle as onpersoonlike konstruksies in geskrewe Afrikaanse tekste te bestudeer. Dit is sinvol om 'n vollediger beeld van die onpersoonlike gebruik van die persoonlike voornaamwoorde te probeer kry, want dan kan dit as aanvulling in die Afrikaanse taalkundeliteratuur dien. Veranderinge in geskrewe taal volg op veranderinge in gesproke taal. Geskrewe taal bestaan uit verskillende soorte tekste soos boeke, koerantartikels en formele tekste wat onder meer akademiese artikels en amptelike notules insluit. Hierdie tekste wissel in vorm en formaliteit, waarin die veranderende gebruik van persoonlike voornaamwoorde in verskillende mate voorkom. Een van die meer onlangse teorieë wat op taalverandering fokus, is grammatikalisering. Grammatikalisering is 'n verskynsel waarin grammatikale woorde ontwikkel om meer of verskillende grammatikale gebruike aan te neem. Ooreenstemmende taalveranderingprosesse kan in verskillende tale waargeneem word. Grammatikalisering bied dus insig in hoe taalverandering plaasvind en watter aspekte hier 'n rol speel. Dit sluit byvoorbeeld aspekte in soos frekwensieverandering (hoe meer 'n woord/konstruksie gebruik word, hoe meer waarskynlik is dit besig om te verander), semantiese verbleking (betekenisaanpassing), laagvorming en unidireksionaliteit. In hierdie studie is grammatikalisering as 'n teoretiese raamwerk gebruik om 'n beeld te kry van hoe die Afrikaanse en Nederlandse persoonlike voornaamwoorde ontstaan het en hoe dit verander het om ook in onpersoonlike kontekste bruikbaar te wees. Afrikaans en Nederlands is nabyverwante tale en gebruik soortgelyke persoonlike voornaamwoorde. In hierdie studie word die Afrikaanse voornaamwoorde jy en hulle met die Nederlandse voornaamwoorde je en ze vergelyk vanuit 'n grammatikaliseringsperspektief. Nederlands is deel van hierdie studie, want mens sou kon verwag dat hierdie twee tale op ’n ooreenstemmende manier verander, júis omdat hulle so naby verwant is. Dit is dus interessant om te sien hoe die tale ooreenkom en verskil van mekaar met betrekking tot die manier waarop hul persoonlike voornaamwoorde in onpersoonlike kontekste gebruik word. Twee statisties vergelykbare korpusse is in hierdie studie vir hierdie doelwit gebruik. Daarbenewens word vanuit die literatuur aangetoon dat daar verskeie onpersoonlike kontekste bestaan waarin jy/je en hulle/ze gebruik kan word. Hierdie kontekste is reeds omvattend bestudeer en beskryf, en is ook van toepassing op ander tale. Dit is interessant om te sien hoe die gebruik van jy/je en hulle/ze in hierdie kontekste pas en of daar verskille tussen die twee tale is.
Description
MA (Afrikaans en Nederlands), North-West University, Potchefstroom Campus