NWU Institutional Repository

Die koerant as multimodale hulpmiddel ter ontwikkeling van selfgerigte lees van graad 4-Afrikaans Huistaalleerders

Loading...
Thumbnail Image

Date

Supervisors

Journal Title

Journal ISSN

Volume Title

Publisher

North-West University (South Africa)

Record Identifier

Abstract

Die huidige swak leessituasie in Suid-Afrika (veral van graad 4-leerders in die Intermediêre Fase) is in hierdie studie ondersoek aangesien verskeie navorsingstudies reeds bewys het dat lees ’n belangrike vaardigheid is wat ’n kind moet bemeester om ’n toegeruste landsburger in die 21ste eeu te wees. Die navorsingsdoelwitte wat vir hierdie studie bepaal is, is die begeleiding van graad 4-Afrikaans Huistaalleerders deur die onderrig van leesstrategieë asook die daarstelling van riglyne vir graad 4-Afrikaansonderwysers om koeranttekste as multimodale hulpmiddels te gebruik om hierdie leerders waarskynlik tot selfgerigte lesers te ontwikkel. ’n Uitgebreide literatuurstudie is onderneem om die sleutelkonsepte wat in hierdie studie tersaaklik is, te ondersoek. Die huidige leessituasie in Suid-Afrika is ondersoek om te bepaal hoe die swak leessituasie reeds die stryd aangesê word, watter vordering reeds gemaak is, hoe die leessituasie met dié van die res van die wêreld vergelyk en watter sukses internasionaal behaal is ten opsigte van die skep van ’n leeskultuur. Koerante, die oorsprong daarvan, koerantlees en die wyses waarop dit in die taalklaskamer aangewend kan word, is nagevors. In hierdie studie word die aard van multimodale hulpmiddels en leesstrategieë wat deur die taalonderwyser onderrig kan word met die doel om leerders te bemagtig om dit te gebruik om moontlik tot selfgerigte lesers te ontwikkel, belig. Die verband tussen selfgerigte leer en selfgerigte lees word omskryf om sodoende te bepaal op watter wyse graad 4-Afrikaans Huistaalleerders gemotiveer kan word om selfgerig te lees en selfgerig te leer om uiteindelik in toegeruste landsburgers te ontwikkel. Die ontwikkelingstadia van graad 4-Afrikaans Huistaalleerders, wat hulle in die middelkinderjare bevind, is volledig ondersoek om te bepaal of hierdie leerders in staat is om die koerant te lees, te verstaan en te gebruik om hulle na verwagting tot selfgerigte lesers te ontwikkel. Hierdie navorsing is binne die interpretivistiese navorsingsparadigma met behulp van ’n kwalitatiewe navorsingsbenadering uitgevoer. ’n Verskeidenheid data-insamelingsinstrumente en ’n gerieflikheidsteekproefneming is tydens die navorsing gebruik. Die data wat tydens die studie ingesamel is, is geanaliseer aan die hand van temas wat uit die literatuurstudie en ’n inhouds- en tematiese analise van verskeie dokumente gespruit het. Die kernnavorsingsbydrae van hierdie studie is dat ʼn bepaalde groep graad 4-Afrikaans Huistaalleerders bemagtig is om ʼn verskeidenheid tekste (met die koerant as multimodale hulpmiddel) selfgerig te lees. Indien leerders meer uitdagende tekste selfgerig kan lees, sal hulle meer gemotiveerd wees om beter te leer lees en leer en later tot selfgerigte lesers ontwikkel. Verder het die navorser riglyne vir graad 4-Afrikaans Huistaalonderwysers saamgestel waarin verduidelik word hoe hulle die koerant as multimodale hulpmiddel in die klaskamer kan gebruik om leerders tot selfgerigte lesers te help ontwikkel.

Sustainable Development Goals

Description

MEd (Kurrikulumstudies), North-West University, Potchefstroom Campus

Citation

Collections

Endorsement

Review

Supplemented By

Referenced By