Landskap as ervaarskap in die Site_Specific International Land Art Biennale (2011) – ʼn fenomenologiese benadering
Abstract
In hierdie verhandeling word die interaksie tussen kunstenaarsliggaam en die landskap as ervaarskap, tydens die skep van plekspesifieke landkuns, vanuit ’n fenomenologiese raamwerk ondersoek. Dit word gedoen aan die hand van geselekteerde landkunswerke in die Site_Specific International Land Art Biennale (2011). Die problematiek van die studie is geleë in die moontlike wisselwerking tussen die agentskap van die kunstenaarsliggaam en die landskap, wat ’n produktiewe spanning gedurende die proses van landkunsskepping moontlik maak. Die produktiewe spanning tussen die landskap en die kunstenaar is vir die doeleindes van die studie gesitueer in vyf landkunswerke, geskep deur die kunstenaars Andrew van der Merwe, Hannelie Coetzee, Gabriele Meneguzzi en Vincenzo Sponga, Angus Taylor en Strijdom van der Merwe. Die kunstenaars se liggaamlike agentskap in die landskap dien as ’n platform vir die ondersoek na mens-landskap interaksie, wat aansluit by navorsing oor landskap. Hierdie navorsing beklemtoon hoe die mens en landskap met mekaar vervleg is en nie van mekaar verwyderd is nie. ʼn Oorsig oor die mens-landskap interaksie tydens kunsskepping binne verskillende style dien as onderbou vir die kunstenaar se ervaring van, en interaksie met, die landskap. Myns insiens is daar nog nie genoegsaam ondersoek ingestel na die wyse waarop die landskap die kunstenaar beïnvloed tydens die skep van landkuns nie. Hierdie ondersoek word van stapel gestuur sodat die landskap se rol en agentskap tydens landkuns heroorweeg kan word en die dinamiese wisselwerking tussen die landskap en die kunstenaar verhelder. Die ervaring van die landskap, asook die agentskap van beide kunstenaarsliggaam en landskap, word ondersoek vanuit ’n fenomenologiese benadering tot agentskap. Daarom ondersoek hierdie studie die kunstenaar as ’n wese-in-die-wêreld en liggaam-subjek (soos geteoretiseer deur Merleau-Ponty), wat die landskap met die hele liggaam (deur middel van die sintuie) ervaar en hierdeur ook beïnvloedbaar is. Vanuit hierdie benadering word aangedui hoe die ervaring van die landskap ’n produktiewe spanning tussen agentskappe impliseer. Dié produktiewe spanning is geleë in die landskap se ervaarbaarheid (deur middel van die liggaam) daarom word die landskap eerder as ’n ervaarskap in hierdie studie gekontekstualiseer. Tydens die skep van landkuns skakel die liggaam van die kunstenaar direk met die ervaarskap en wanneer hierdie interaksie erken word, word die beskouing van twee wederkerige agente versterk – waar beide agente (liggaam en ervaarskap) deel het aan die skeppingsproses. Die ervaarskap se agentskap tydens landkuns is, onder andere, geleë in liggaamlike ervaarbaarheid, wat die besluite en aksies van die kunstenaar beïnvloed en ook die verloop van ’n landkunswerk affekteer. Die ervaarskap se rol in die skeppingsproses is, byvoorbeeld, te sien in die wyse waarop die see Coetzee se Familieportret omspoel, waarna sy dit weer herbou, net sodat dit weer omgespoel kan word. So ook in Strijdom van der Merwe se Circles washed up by the tide, waar die golwe sy agentskap beïnvloed en teëstaan, en sodoende die ervaarskap se rol in die landkunswerk duidelik maak. In hierdie konteks betwis die ervaarskap konnotasies van ’n suiwer visuele ver-beeld-ing, soos met landskapskildering, en bevorder dit die moontlikheid om die agentskap van die ervaarskap tydens die skep van landkuns te erken.
Collections
- Humanities [2671]