Langtermyn invloed van oorgewig en skraalheid op fisieke fiksheid en akademiese prestasie van laerskoolmeisies: die NW-CHILD study
Abstract
Ekstreme liggaamsamestellingsprofiele van onder- en oorvoeding wat groeibelemmering, ondergewig, skraalheid, oorgewig en obesiteit insluit, is wéreldwyd bekend as risikofaktore wat kinders se ontwikkeling en gesondheid nadelig kan beïnvloed. Suid-Afrika (SA) staan bekend as 'n diverse land wat verskeie etniese en sosio-ekonomiese groepe insluit. Kinders afkomstig van lae inkomstegebiede se gesondheid word onder andere beïnvloed deur die dubbele las van hul omstandighede waar hulle aan beide oor- en ondervoeding blootgestel word. Die doelstellings van hierdie studie was tweeledig. Eerstens, om te bepaal of daar oor 'n langtermyn by laerskoolmeisies in Suid-Afrika se Noordwes Provinsie (NWP) 'n verband is tussen groeibelemmering, skraalheid, ondergewig en akademiese prestasie. Tweedens, om vas te stel of daar 'n verband is tussen obesiteit en akademiese prestasie tydens meisies se laerskooljare, en of hierdie moontlike verband tussen akademiese prestasie en obesiteit deur fisieke fiksheid beïnvloed kan word oor die langtermyn. Proefpersone is ewekansig geselekteer vir deelname aan die studie wat uitgevoer is oor 'n sewejaarlaerskooltydperk vanaf 2010 tot 2016 en het drie opvolgmetings (2010, 2013 en 2016) ingesluit. Proefpersone is geselekteer uit die Noordwes Provinsie van Suid-Afrika en is afkomstig vanvier skooldistrikte en 20 skole wat verskillende skoolkwintielstatusse (1 - 5) verteenwoordig. Die volgende antropometriese metings is gebruik: lengte, massa, liggaamsmassaindeks (LMI), vetpersentasie, en velvoue. Akademiese prestasie van die proefpersone is bepaal deur die Jaarlikse Nasionale Assessering (JNA, 2013), die Noordwes Provinsiale Assessering (NWPA, 2016), asook die akademiese prestasie van die proefpersone soos behaal tydens die Junie-skooleksamengeleentheid in elk van die drie metingsjare. PACER se aërobiese uithouvermoëtoets, wat deel uitmaak van die Fitnessgram, is gebruik om fisieke fiksheid (VO2maks) te bepaal. Die Statistica-rekenaarprogram en Anthro-sagtewareprogram is gebruik vir beskrywende ontleding van die data. Die voorkoms van oor- en ondergewig is bepaal deur standaard antropometriese metings (vetpersentasie, LMI en velvoue). Die gemiddelde ouderdom van die groep gedurende die jare van opvolgmetings was 6.81 jaar in graad 1, 9.84 jaar in graad 4 en 12.85 jaar tydens die finale metings in graad 7. Data is ontleed deur die groep in verskillende LMI-groepe te klassifiseer deur gebruik te maak van internasionale geslags- en ouderdomspesifieke afsnypunte. T-toetsing is ook gebruik om verskillende gewigsgroepe te vergelyk waar p < 0.05 as 'n betekenisvolle verskil aanvaar is. 'n Herhaalde metings ANOVA met 'n post-hoc Bonferoni-aanpassing is gebruik om groeibelemmering, skraalheid en ondergewig se verband met akademiese prestasie te ondersoek. Die verandering in akademiese prestasie en die invloed van fisieke fiksheid op hierdie verband met oorgewig is ook longitudinaal geanaliseer deur middel van 'n latente groeikurwemodel vanuit die "Structural Equation Modelling" (SEM) se raamwerk deur middel van AMOS (weergawe 25). Groeibelemmering het oor die langtermyn 'n betekenisvolle rol gespeel by meisies se akademiese prestasie, veral waar dié wat met groeibelemmering verbind word, statisties betekenisvol swakker op akademiese vlak presteer het (p > 0.05). Die normale gewigsgroep het in alle akademiese vergelykings hoër akademiese punte behaal in vergelyking met die groeibelemmeringsgroep. Die resultate van die studie het voorts ook getoon dat oorgewig- en obese meisies nie akademies swakker presteer het as meisies wat 'n normale gewig gehandhaaf het nie. Verder is daar ook 'n verband gevind tussen obesiteit, akademiese prestasie en die bemiddelingseffek van fisieke fiksheid. Resultate wat verder ontleed is deur middel van die SEM- raamwerk toon ook dat aërobiese fiksheid 'n bemiddelingseffek uitoefen op akademiese prestasie. Hierdie ontleding het gewys dat obese kinders wat hoër fisieke fiksheidswaardes behaal het, akademies beter presteer het as obese en onfikse meisies. Die bevindinge bevestig die verband tussen wanvoeding en, meer spesifiek, die verwantskap tussen groeibelemmering en akademiese prestasie, asook die bemiddelingseffek van fisieke fiksheid. Die gevolgtrekking word dus gemaak dat voorkomende sowel as omkeerstrategieë in plek gesit moet word om die negatiewe invloed van onder- en oorgewig by jong skoolgaande meisies te kan bekamp.
Collections
- Health Sciences [2073]