Die CJH de Wet-saak: 'n Histories-kerkregtelike beoordeling
Abstract
Casparus Jan Hendrik de Wet (1887 — 1959) is in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis ’n besondere figuur en ’n soort skadufiguur in die geskiedenis van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA). Sy lewe en bydrae in die Suid-Afrikaanse geskiedenis geniet soveel erkenning dat ’n artikel oor hom in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, III: 235-236 aangebied word. Hierdie publikasie wat in 1977 uitgegee is, is waarskynlik die laaste gepubliseerde werk waarin die naam en persoon van CJH de Wet op biografies nagevorsde wyse ter sprake gekom het. Hierdie studie is die eerste waarin daar ook gepoog is om aan CJH De Wet ’n teologiese ruimte te bied wat nog nie in die geskiedskrywing rondom prominente GKSA-teoloë aan hom gegee is nie. Die hoofsaak is die klag van leerdwaling wat in die vroeg-veertigerjare van die vorige eeu teen hom aanhangig gemaak is. In die byna 160-jarige bestaan van die GKSA is hy die eerste en enigste teologiese professor wat op hierdie wyse aangekla is en ’n ingrypende en uitmergelende kerkregtelike proses moes trotseer. In hierdie studie is die De Wet-saak vir die eerste keer histories en kerkregtelik nagevors. Een van die hooffigure in die klag teen De Wet was die baie bekende en bekroonde teoloog, die hooggeagte JD du Toit (Totius). In die geledere van die GKSA is De Wet beskou as die grootman (in gestalte) wat in sy prediking net so “groot" was. ’n Vroeëre skoolhoof van Boshoff in die Vrystaat het hom beskryf as “ons magtigste prediker, wat as sulks van sy skouers af uitgesteek het bo al ons predikante ..." Hierdie “grootman" het homself in die geledere van die GKSA verneder en verkleineerd gevoel, dit is in die kerk waaraan hy die grootste deel van sy teologiese lewe (1912 — 1946) toegewy het. De Wet was die eerste teoloog in die GKSA wat in 1921 in Kerkreg gedoktoreer het met ’n proefskrif getiteld Die Kollegiale Kerkreg. Hy het hierdie studie by die Vrije Universiteit in Amsterdam onder prof. HH Kuyper voltooi. Hierdie studie het hom gedwing om diep in die Duitse teologie- en literatuur te delf, wat hom later in die Suid-Afrikaanse konteks as van die grootste kritiese kenners rondom die teologie van Schleiermacher en Karl Barth uitgesonder het. De Wet se blootstelling aan die Duitse invloede en werke, wat Karl Barth insluit, kon later indirek ’n oorsaak gewees het dat hy in sy eie teologiese aanbiedinge misverstaan en verkeerd geïnterpreteer is. Sonder dat De Wet doelbewus Barthiaans was en hy Karl Barth baie krities bejeën het, is daar sekere van De Wet se beskouinge rondom die Filioque-leer en ook sy vertolking van die Erfsonde-leer wat ’n realistiese beskouing voorhou en met opset wegbeweeg van ’n federalistiese beskouing. Dit blyk dalk meer Barthiaans te wees as wat De Wet self sou erken het. Die hoofsaak wat in hierdie studie kerkregtelik aangepak word, is om agter die persoon en die saak van CJH de Wet in te skuif en na te gaan watter teologiese aspekte vir CJH de Wet uitgestaan het. Verder om te bepaal wat veroorsaak het dat hy deur sy eie kollegas nie meer geskik geag is om sy bediening in Potchefstroom voort te sit nie. Wanneer De Wet aan die einde van die geding skerp en negatief teen JD du Toit skryf, is die logiese vraag: wat het hom daartoe gedryf? Hy skryf onder andere: “Prof. JD du Toit het op die laaste Sinode aktief teen my opgetree en my openlik en publiek voor die Eerw. Sinode beskuldig van kettery ..." JD du Toit het daarop aangedring dat in 1946 die eerste buitengewone Sinode in die geskiedenis van die GKSA opgeroep moes word omdat hy dit noodsaaklik geag het om die vorige Sinode se “halwe werk reg te maak". Die “halwe werk" verwys na die hantering van die leergeding teen De Wet tydens die Sinode van 1945. Die Kuratorium was verantwoordelik om die De Wet-saak kerkregtelik te hanteer. Die grootste uitdagings waarvoor hulle te staan gekom het, was om oor die ware leer, maar ook oor die persoon wie se leer op nege gronde onder verdenking was, oordeel te fel. Volgens ds. JV Coetzee, een van die prominente kuratore en ’n noue bondgenoot en vertroueling van JD du Toit, was die meeste van De Wet se “dwalinge" in sy studente se aantekeninge te vind. JD du Toit en JV Coetzee het baie moeite gedoen om in opdrag van die Kuratorium ’n rapport saam te stel wat die saak van De Wet in sy grond moes bestudeer en blootlê. Dit was die aanleiding tot 'n uitgebreide dogmatiese studie in ’n rapport van oor die 50 getikte bladsye. In die rapport word De Wet op al nege gronde van die beskuldigings as skuldig voorgehou. Die oproep tot die buitengewone Sinode van 1946 was in hoofsaak daarop gemik om hierdie uitgebreide studie die groot toets te maak waarom CJH de Wet nie langer mag dien nie. Hierdie studie het ’n oordeel probeer vorm oor die persone, die bevoegdhede, die werkswyse, die ervarings en die mandate wat aan alle betrokkenes in die De Wet-saak toegedeel was. ID Krüger was as voorsitter van die Kuratorium daarmee gediend dat sy skoonseun, op daardie stadium adv. F Rumpff (’n latere hoofregter in Suid-Afrika), vanuit die burgerlike reg op verskeie fasette van die De Wet-saak inspraak moes lewer. Dit verklap in ’n groot mate die Kuratorium se eie onsekerheid in die hantering van die saak. Rumpff en nog ’n bekende professor in die Regte, maar in teologiese kringe baie bekend, prof. LJ du Plessis, is op bykans elke faset van die saak vir advies genader. In die studie is nagevors watter groot invloed die burgerlike reg, soos dit in geregshowe geld, in die saak teen De Wet, wat veronderstel was om kerkregtelik hanteer te word, gehad het. Die studie poog ook om vas te stel of die gevaar van nepotisme die saak beïnvloed het. ID Krüger met sy skoonseun, F Rumpff, en JD du Toit met sy seun, S du Toit, verteenwoordig hegte familie verbintenisse en almal was groot rolspelers in die De Wet-saak. Die sinodale en kerkregtelike proses met CJH de Wet het op 8 Februarie 1946 op tragiese wyse geëindig. De Wet het alle vertroue in die kerkregtelike proses verloor. Hy het met ’n skokkende bedankingsbrief alle bande met die Teologiese Skool Potchefstroom en die Kerke in die GKSA verbreek, wat eindig met die bittere verwyt: “vaar heen". Enkele dae later reik De Wet ’n verklaring uit: “Waarom ek uit die GKSA uitgedryf is?". Hierin verwyt hy onder andere die kerkverband van nepotisme en van klakkelose napraat van ander prominente teoloë. Volgens De Wet dui dit daarop dat die GKSA op daardie stadium geen oorspronklik wetenskaplik gefundeerde teologie beoefen nie. Dit is harde aantygings wat ook in hierdie studie geweeg en verreken moes word.
Collections
- Theology [793]