Die betekenis van Niel van der Watt se vokale komposisies : 'n gevallestudie
Loading...
Files
Date
Authors
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
North-West University
Abstract
Hierdie skripsie het gehandel oor die waarde en betekenis van Niel van der Watt as Suid-Afrikaanse komponis met spesifieke verwysing na sy vokale musiek. Die navorsing het op sy kunsliedere en koormusiek gefokus. Daar bestaan baie min gepubliseerde navorsingsmateriaal oor Van der Watt se komposisies, wat'n uitdaging vir hierdie studie was; sy belangrikheid as komponis blyk egter duidelik uit die talryke opdragwerke wat hy al gekomponeer het. Die filosofiese wêreldbeskouing vir hierdie studie was interpretavisme en ek wou die werke beskryf, begryp en interpreteer. Die betekenis van Van der Watt se vokale komposisies word in hierdie studie deur sewe deelnemers beskryf wat bekend is met sy werk. Deur hulle ervaring van sy werke te ontleed het daar'n beter begrip van sy bydrae tot koormusiek en kunsliedere ontstaan; kwalitatiewe navorsing is dus gebruik. Die doel van hierdie navorsing was tweeledig, naamlik ondersoekend en beskrywend. Die basiese metode van dataversameling is toegepas deur ope vrae tydens die onderhoude aan die sewe deelnemers te vra.'n Aantal onderhoude is ook met Van der Watt gevoer ten einde die akkuraatheid van die historiese besonderhede vas te stel. Data-insameling en voortdurende data-analise is gelyktydig en voortdurend uitgevoer. Die volgende temas het tydens die onderhoude met die deelnemers gekristalliseer: keuse van tekste, identifikasie van styl, ondersoek na die kunsvorm, invloed van die sosiale konteks en die toeganklikheid van die komposisies. Van der Watt se kennis van letterkunde, veral ten opsigte van poësie, is deur al die deelnemers uitgelig. Hy besit ook die vermoë om verskillende musiekstyle te vermeng, met spesifieke verwysing na erkende Westerse elemente. Dit het ook aan die lig gekom dat hierdie komponis nie sy hoë kwaliteit van werklewering opoffer ter wille van die toeganklikheid wat hy as komponis by die gehore teweegbring nie. Dit is juis sy komposisies se toeganklikheid, tesame met sy fyn waarnemingsvermoë, wat sy werke tot gehore sowel as uitvoerende kunstenaars laat spreek. Dit het uit die onderhoude duidelik geword dat die waarde en impak van Van der Watt as komponis voortspruit uit hulle ervaring van sy musiek op verskillende vlakke. Hy is ewe tuis in instrumentale as vokale omstandighede,'n feit wat'n positiewe effek op al die deelnemers het. Sy persoonlike toeganklikheid, aanpasbaarheid en sin vir literêre tekste het'n leitmotiv verskaf waarvolgens die verskillende hoofstukke en onderwerpe verenig kon word. ‘n Bykomende tema wat teen die einde van die studie duidelik geword het, was die verskynsel van "laer" en "hoër" kunsvorme. Dit bring my tot die volgende vraag: Kan Van der Watt se werke volgens hierdie beginsel gekategoriseer word? Die vraag val buite die omvang van die huidige navorsing en dien slegs as riglyn vir verdere studie. Aangesien daar talle belangrike komposisies van Van der Watt verskyn het en daar min navorsing oor hierdie werke gepubliseer is, verskaf dit'n geleentheid aan navorsers om'n aantal van die werke te ontleed as'n formele navorsingsprojek. Hierdie komposisies behels nie net vokale werke nie, maar ook substansiële instrumentale werke. Daar bestaan ook nie op die oomblik'n volledige katalogus van Van der Watt se komposisies nie. Hierdie aspek is uiters belangrik vir nasionale en internasionale navorsing.
Description
MA (Music Performer), North-West University, Potchefstroom Campus