Relasionele performatisme : 'n Metamodernistiese benadering tot die resente werk van Marlene van Niekerk
Abstract
Die navorsing in hierdie proefskrif loop langs twee roetes. Die eerste is'n ondersoek na die maniere waarop Marlene van Niekerk as (Suid-)Afrikaanse skrywer se werke (veral die mees resente tekste)'n sensitiwiteit toon vir die veranderende tye, en watter gevolglike verskuiwinge in haar werk te sien is. Die tweede is die literatuurteoretiese weg wat'n bydrae lewer tot die maniere waarop literatuur in die huidige denkklimaat, en veral in die Suid-Afrikaanse konteks, wetenskaplik bestudeer word deur metamodernisme te ondersoek as'n nuwe(r) estetiese gevoelstruktuur. Metamodernisme (het) ontstaan as gevolg van postmodernisme se veronderstelde ‘afloop’, of die ontoereikendheid daarvan om die kontemporêre oomblik na behore te beskryf, en'n teoretiese vermoeidheid met postmodernisme wat toenemend duidelik word. Van Niekerk se oeuvre is bevestigend en postkrities benader wat beteken dat die tekste toegelaat is om as sonderlinge literêre gebeurtenisse hul eie estetiese en etiese kodes vir die navorser op te voer. Die navorsing is dus in die eerste plek gelei deur Van Niekerk se oeuvre, en die verskuiwings wat daarin raakgesien kan word. Die bestaande oeuvre is in drie fases ingedeel: die vroeë fase waartydens Sprokkelster (1997), Groenstaar (1983) en Die vrou wat haar verkyker vergeet het (1992) verskyn het; die Suid-Afrikaanse fase waaronder Triomf (1994), Agaat (2004) en Die kortstondige raklewe van Anastasia W (2010) ressorteer, en die transnasionale fase wat bestaan uit Memorandum (2006), Die sneeuslaper (2010), Kaar (2013), In die stille agterkamer (2017) en Gesant van die mispels (2017).'n Noemenswaardige verskuiwing is aangedui ná Die kortstondige raklewe van Anastasia W. Die verskuiwing is weg van'n spesifiek Suid-Afrikaanse bemoeienis na'n transnasionale ingesteldheid wat gepaard gaan met'n "kosmopolitiese, veel wyer en in beginsel alles-insluitende perspektief" (Van Vuuren, 2014:510). Die verskuiwing beteken egter nie dat die tekste in die transnasionale fase geen sosiaal-politiese en maatskaplike betrokkenheid by Suid-Afrika vertoon nie. Die Suid-Afrikaanse problematiek word egter in'n meer kosmopolitiese konteks geposisioneer. Van Niekerk se vyf nuutste tekste vertoon op verskillende maniere'n bewustheid van en sensitiwiteit vir globale uitdagings soos dreigende politiese, ekonomiese en ekologiese katastrofes, asook probleme op nasionale vlak wat'n internasionale kleur verkry omdat dit in verskillende lande aanwesig is, soos ongelykheid, geweld en politiese onstabiliteit. Die verskuiwing in Van Niekerk se werk, soos dit hierbo uiteengesit is, kan beskou word as'n beweging in die rigting van metamodernisme. Metamodernisme word beskryf as'n ossillering tussen modernistiese en postmodernistiese uitgangspunte. Die navorsing oor metamodernisme wat gedoen is deur Van den Akker, Vermeulen en Gibbons (2017), en Van der Merwe (2017), is toonaangewend vir hierdie proefskrif. Omdat tyd-ruimtelike grensloosheid'n belangrike kenmerk van metamodernisme is, is literêr-historiese periodisering problematies in die proses om metamodernisme te kontekstualiseer. Na die voorbeeld van Visagie (2016a) word metamodernisme benader as één van die modernismes, saam met modernisme en postmodernisme, wat tans in die moderne era, of die moderniteit, onderskei kan word. Om hierdie argument te voer, is Vaessens (2013) se idee van transhistoriese raamwerke betrek wat dit moontlik maak vir literêre benaderings om los van tradisionele chronologiese periodekodes te funksioneer. Omdat metamodernisme ossilleer tussen modernistiese en postmodernistiese ingesteldhede, is dit moontlik vir metamodernisme om'n nuwe simboliese ruimte te skep waarbinne literêre tekste toegelaat word om op te tree as sonderlinge kreatiewe uitinge wat in staat is om lesers mee te sleur en te betower.'n Aantal metamodernistiese uitgangspunte is in die studie bestudeer. Die metamoderne subjek word opnuut as gesentreer uitgebeeld in reaksie op die gedesentreerde postmoderne subjek vir wie identiteit en samehang uitwaaierend, relatief en ontbetroubaar is. Omdat die subjek hom- of haarself as onlosmaaklik en relasioneel verbind voel aan alles op aarde, ervaar hy of sy op affektiewe wyse'n etiese verantwoordelikheid om nie slegs met die self besig te wees nie, maar om die illusie van sy of haar subjekskap op te hef ten gunste van'n omarming van ooreenkoms en communitas. Die relativisme van postmodernisme het egter die kontemporêre individu onomkeerbaar bewus gemaak van die gekonstrueerdheid van die werklikheid. Daarom kies die metamoderne subjek om strategies en naïef-ingelig met die werklikheid om te gaan; om met ander woorde te maak asof dit wel moontlik is om'n beter toekoms in te sien en te laat gebeur. Ten spyte van die globale uitdagings en die gekompliseerde intersubjektiewe interaksies tussen mense, diere en die omgewing, glo die metamoderne subjek dat hy of sy en die mensdom as geheel wel'n verskil kan maak. Hierdie idealistiese strewes kom tot uitvoering met behulp van relasionele performatisme. Relasionele performatisme is'n metamodernistiese strategie waarvolgens kunsuitinge bestudeer word as talig en liggaamlik performatief. Soos metamodernisme, word relasionele performatisme onderlê deur sterk relasionaliteitsimpulse aangesien die betrokkenes by'n performatistiese uiting beskou word as deel van'n akteurnetwerk (Felski, 2015). Relasionele performatisme is selfbewus gekonstrueerd omdat dit gebaseer is op naïef-ingeligte hoopvolheid en die metamodernistiese ‘asof-ingesteldheid’. Doelbewus gekonstrueerde literêre beraming word strategies gebruik om performatistiese uitinge as geritualiseerd uit te beeld. Beliggaming en materialiteit is belangrik omdat performatistiese uitinge in terme van die ontologiese bestaan van die werklikheid'n wegdraai is van die idee dat die werklikheid slegs talig gemedieer word. Tekstuele performatisme verstaan'n literêre werk as'n kreatiewe gebeurtenis (Attridge [2004] se "event") wat beteken dat die teks weerstandig is teen literêre instrumentalisering. Die doel van relasionele performatisme is om'n gevoel van betowering in die kunste, en spesifiek die letterkunde, op performatistiese wyse te laat herleef. Aan die hand van die verskuiwing wat in Van Niekerk se oeuvre geïdentifiseer is, en die insigte wat as gevolg van die daarstelling van relasionele performatisme bereik is, is die vyf tekste in die transnasionale fase van Van Niekerk se oeuvre metamodernisties ondersoek. Daar is vasgestel dat die tekste metamodernistiese idees soos affek, relasionaliteit, performatisme, heterochronisiteit en posthumanisme vertoon. Van Niekerk is in die derde fase ook sterk onder die indruk van die doel van kuns in die gekompliseerde kontemporêre oomblik. Die vyf tekste in die transnasionale fase voer die skrywer se ossillering tussen die etiese en die estetiese dimensies van kuns op. Van Niekerk (2013a) se idee van "letterkunde wat dink" onderlê hierdie studie. Metamodernistiese letterkunde wat performatisties dink, en'n eie interne etiese kode opvoer, soos die tekste in die transnasionale fase van Van Niekerk se oeuvre, lei die leser uiteindelik tot'n punt waar dit moontlik is om die werklikheid op nuwe, relasioneelbegronde maniere te beskou. Van Niekerk (2013a:36) stel dit soos volg: "[…] conceptually ambiguous and linguistically ‘strange’ works that resist instrumental interpretations would best stimulate vitality in reading communities, simply because they will provoke tougher and more inclusive conversations, and unpredictable interpretations".
Collections
- Humanities [2671]