'n Ondersoek na die invloed van entrepreneuriese oriëntering op die sukses van selfsorg-vakansie-oorde
Abstract
Selfsorg vakansie-oorde is 'n baie sterk gevestigde aanbod in die gasvryheidsbedryf van Suid-Afrika. Dit is egter 'n hoogs kompeterende mark in Suid-Afrika met 'n wye verskeidenheid van oorde en fasiliteite wat in die mark aangebied word. Daarom is dit van uiterse belang dat selfsorg-oorde kompeterend bly in hierdie uiters mededingend mark. Selfsorg-oorde behoort bewus te wees van die voordele wat 'n entrepreneuriese oriëntasie kan meebring ten einde 'n kompeterende voordeel te bewerkstellig vir die betrokke oord. Entrepreneurskap word wyd erken as 'n hulpmiddel om ondernemings in staat te stel om 'n kompeterende voordeel bo hul mededingers te verkry. 'n Entrepreneuriese oriëntasie in selfsorg-oorde kan waarskynlik lei tot innoverende idees, kreatiewe ontwikkeling van prosesse en die skep van 'n verhoogde aptyt vir bestuurbare risiko's. Korporatiewe entrepreneurskap, algemeen bekend as intrapreneurskap, te midde van bestuurspanne van selfsorg-oorde is uiters belangrik vir die implementering van 'n entrepreneuriese oriëntasie. Entrepreneuriese oriëntasie word gekenmerk deur die konstrukte van innovering, outonomiteit, risikoneming, pro-aktiwiteit en kompeterende aggressiwiteit. Die primêre doel van hierdie studie was om die vlak van entrepreneuriese oriëntasie by selfsorg-oorde vas te stel, en die effek wat die aanwesigheid van entrepreneurskap in selfsorg-oorde het op die suksesfaktore van die betrokke oorde. Die identifisering van suksesfaktore vir selfsorg-oorde was ook op die agenda en is gedoen met die hulp van huidige selfsorg-oord bestuurders sowel as literatuurstudie oor suksesfaktore van gasvryheidsinstellings. 'n Omvattende literatuurstudie is ook gedoen oor entrepreneurskap, intrapreneurskap en entrepreneuriese oriëntasie, gevolg deur literatuurstudie oor toerisme in Suid-Afrika in die algemeen en suksesfaktore in besonder. Na die literatuurstudie het 'n empiriese studie gevolg met behulp van 'n vraelys. Die vraelys het die neiging tot die vyf entrepreneuriese dimensies in die gekose selfsorg-oorde getoets. Daarna is die verwantskap vasgestel tussen die vyf entrepreneuriese konstrukte en die geïdentifiseerde suksesfaktore van selfsorg-oorde. 'n Gevolgtrekking kon gemaak word vanuit die ontleding van die ingewonne data. Dit is duidelik dat die teenwoordigheid van 'n entrepreneuriese oriëntasie by selfsorg-oorde sterk gevestig is, hoewel die verwantskap met die geïdentifiseerde suksesfaktore óf laag is óf nie met sekerheid vasgestel kon word nie. Die doel van die studie is dus suksesvol bereik deurdat die vlak van teenwoordigheid van entrepreneurskap by selfsorg-oorde vasgestel kon word. Vanuit die bevindinge van hierdie studie kon verskeie aanbevelings aan selfsorg-oorde gemaak word oor die vertroeteling en bevordering van entrepreneuriese oriëntasie by die betrokke oord, ten einde selfsorg-oorde in staat te stel om hulself met 'n kompeterende voordeel te posisioneer.