Die geskiedenis van Tokai-park : 1792 tot 1910, as rekord vir 'n bewaringstrategie
Abstract
Tokai-park het 'n geskiedenis van omgewingsbewaring wat direk na die Vereenighde Oostindische Compagnie (VOC)1 se houtbeleid teruggevoer word. Die uitreiking van Constantia aan Simon van der Stel, 1685, het die groter Steenbergvallei afgeskerm van gronduitgifte. Hoewel Tokai nooit 'n gedeelte van die Constantia-plaas was nie, word die plek se geskiedenis in die skadu van Constantia groot. Dit is hierdie metafoor wat verander moet word. Tokai se geskiedenis het 'n ryke verlede wat getuig van die Sonqua se jagveld, Khoina-grondeienaarskap tot 1672, 'n kortstondige VOC-skaappos en 'n mynhuis, 'n VOC-houtveld, 'n wynplaas omring van kroongrond en natuurlike fynbos na 1806, 'n bosboukwekery, -proefplaas en -plantasies en 'n jeugrehabilitasiesentrum, die Porter-skool. Die silwerboom en fynbos (kreupelbos) het die voormalige houtveld, Buffelskraal, so belangrik gemaak dat slegs 48 morg as plaasgrond aan die einde van die VOC-era uitgereik is. Die landskap was altyd fynbosveld en pogings om die fynbosveld in wingerde te omskep, het misluk. Voorts ontbreek die area aan natuurlike weiding vir veeteelt. Die stigting van Tokai-park in die 21ste eeu as 'n plek waar fynbos hervestig word, voltooi 'n kringloop wat deur die bestuur van die VOC-amptenary begin is.
Nie-tasbare erfenis in naamgewing gaan verlore weens die oormatige beklemtoning van die Kaaps-Hollandse boustyl. Huidige publikasies fokus op die toerismewaarde van die vallei, maar erfenisstudies van Tokai is ontoereikend. Deur die streekgeskiedenis vanuit 'n histories wetenskaplike invalshoek te benader, werp argief- en ander navorsing lig op die streek en waar Tokai inpas. Vergete erfenis, soos die voorkoloniale geskiedenis, die VOC-houtveldreservering en naamgewing, word opgediep. Die kulturele en historiese betekenis van Tokai-park word herstruktureer en dit suggereer dat die heersende metodiek in erfenisimpakstudies mank gaan aan 'n effektiewe navorsingsmetodiek. Tokai het 'n ryk geskakeerde geskiedenis. Tydsgewrigte wat afgeskeep word, ontwortel die gebeure aan die verlede.
Die ekonomiese potensiaal van Tokai-park neem 'n wending toe die landgoed in 1883 deur die Kaapse koloniale regering gekoop word om geestesgestremde pasiënte van Robbeneiland op die vasteland te hervestig. Omdat die plaas omring is deur kroongrond, bied die hele area spoedig 'n oplossing vir 'n sukkelende houtbedryf om geskikte kwekerygrond te bekom. Dit lei tot die daarstelling van 'n proefplaas vir bosbou, maar dit word nooit so benut nie, want daar word onmiddellik met die vestiging van eksotiese aanplantings begin, sonder enige navorsingsresultate. Intussen verwerp mediese verslae die terrein as hersteloord vir geestesgestremde pasiënte en vind 'n uitruiling van terreine plaas, wat die Porter-skool vir die rehabilitasie van jeuggevangenes na Tokai bring en aanleiding gee tot die verdeling van die grond en geboue. Verskeie institusionele nedersettings ontwikkel, asook 'n kleiner bosbounedersetting. Die gevolg is oorbevolking op grond wat reeds uitermate vir plantasies geëksploiteer word. Die impak op die natuurlike omgewing is rampspoedig en langdurig. In 2005 word Tokai-park binne Tafelberg Nasionale Park (TNP) gestig met die oog op fynbosbewaring in plaas van bosbou. Die projek word ondersteun deur die ryke kulturele nalatenskap en ekotoerisme. Kulturele en historiese erfenismerkers is sentraal in die nuwe missie en visie. Maar is daar 'n historiese rekord om dit te ondersteun?
Die proefskrif poog om die verlede te rekonstrueer deur navorsing volgens vakwetenskaplike riglyne. Dit dien as alternatief tot die huidige erfenisimpakstudies wat nie die verlede ten volle en in gelyke maat aanbied nie. Dit bevestig ook dat oppervlakkige erfenisimpakstudies tot gebrekkige erfenishulpbronassessering aanleiding gee en die bewaring daarvan in gevaar stel.
Collections
- Humanities [2696]