Volhoubare ontwikkeling, omgewingskonstitusionalisme en die oppergesag van die reg vir die omgewing : 'n grondwetlike beskouing
Abstract
Volhoubare ontwikkeling bly die wyds aanvaarde konseptuele hulpmiddel om die wêreldsamelewing die moeilike groei- en ontwikkelingsdoolhof te lei. Maar net soos in die res van die wêreld oorheers die politiek en neoliberale antroposentrisme die werklikheid in Suid-Afrika, en by afwesigheid van enige ander polities aanvaarbare konstruk wat nie met die heersende antroposentriese eise in stryd is nie, sal swak volhoubare ontwikkeling (in teenstelling met 'n ekosentriese vorm van sterk volhoubare ontwikkeling) waarskynlik vir die afsienbare toekoms die oorhand hê. Om die waarheid te sê, sterk volhoubare ontwikkeling het tot op hede weinig prioriteit geniet in die regs- en politieke werklikheid en dit is onwaarskynlik dat hierdie posisie in die afsienbare toekoms gaan verander. As voornoemde onvermydelikheid aanvaar word, is die sentrale vraag of volhoubare ontwikkeling nog steeds enige deurslaggewende rol kan speel in die handhawing van die oppergesag van die reg vir die omgewing in Suid-Afrika. In hierdie artikel doen ek aan die hand dat dit wel kan gebeur indien dit deur 'n grondwetlike lens beskou word. In Suid-Afrika is volhoubare ontwikkeling 'n integrale deel van die regsorde sedert die koms van demokrasie. Die land het 'n fundamentele omgewingsreg verskans in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 1996 en 'n omvattende korpus omgewingsreg aanvaar om uitvoering aan die breër beleide daarvan en die menigte grondwetlike oogmerke van die nuwe omgewingsreg te gee. Deur dié verskansing het volhoubare ontwikkeling dus in ons land 'n grondwetlike vraagstuk of aangeleentheid geword wat binne die konteks van omgewingskonstitusionalisme beskou moet word. As oorkoepelende doelstelling beoog die artikel om 'n bydrae te lewer tot die konseptuele ontwikkeling van die oppergesag van die reg in die Suid-Afrikaanse omgewingsregkonteks en die breër konteks van omgewingskonstitusionalisme, en om dan die rol van volhoubare ontwikkeling in dié verband te illustreer. Wat die sentrale navorsingsvraag betref, wil ek gevolglik ondersoek instel of die "flou" konsep van volhoubare ontwikkeling weer "bygebring" kan word deur dit grondwetlik in te klee, en of volhoubare ontwikkeling as 'n eienskap van omgewingskonstitusionalisme kan bydra tot die handhawing van die oppergesag van die reg vir die omgewing in Suid-Afrika op grond van die wyse waarop die Suid-Afrikaanse regsprekende gesag met volhoubare ontwikkeling omgegaan het.
URI
http://hdl.handle.net/10394/20296http://www.litnet.co.za/assets//pdf/joernaaluitgawe_11_2/11_2_Kotze.pdf
Collections
- Faculty of Law [388]