Kohesiemerkergebruik in die skryfwerk van Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders
Abstract
Ten spyte van die belangrike rol wat kohesiemerkers met betrekking tot die strukturering van tekste speel, is die gebruik daarvan nog nie in die skryfwerk van Afrikaanssprekende leerders in die intermediêre (graad 4-6) en senior fase (graad 7-9) ondersoek nie.
In hierdie verhandeling word die hantering van ál vyf kategorieë van kohesiemerkers in die skryfwerk van T1-sprekers van Afrikaans in graad 6 (einde van die intermediêre fase) en graad 9 (einde van die senior fase) ondersoek.
Om kohesiemerkergebruik by graad 6- en graad 9-leerders te kon ondersoek, moes korpora van leerderskryfwerk gevind word. Twee korpora bestaande uit 200 skryfstukke elk met onderskeidelik woordtellings van 20 723 en 22 171 is saamgestel. Die navorser het ook ’n norm, waaraan die leerders se kohesiemerkergebruik in hierdie korpora gemeet kon word, nodig gehad. Hierdie norm (of geïmplementeerde raamwerk) het voortgevloei uit ’n uitgebreide beskrywing van elkeen van die vyf kohesiemerkersoorte en die taalmiddele deur middel waarvan hulle in Afrikaans ter bewerkstelliging van kohesie gerealiseer word.
Ten spyte daarvan dat ’n rykdom van realiseringsmiddele van die kohesiemerkers deur die leerders gebruik is om kohesie te bewerkstellig, is al vyf kohesiemerkersoorte steeds betreklik min in die korpora van leerderskryfwerk gebruik. Nogtans het enkele tendense ten opsigte van kohesiemerkergebruik uit die korpora na vore gekom. Omdat daar nie op grond van die leerderskryfwerk in die korpora vasgestel kon word watter realiseringsmiddele die leerders wel in staat is om te gebruik nie, is ’n bykomstige meetinstrument, naamlik kohesiemerker-klasopdragte, waarin die leerders “gelei” word om bepaalde realiseringsmiddele van die kohesiemerkers te gebruik, opgestel. Die geïmplementeerde raamwerk is gebruik om in hierdie klasopdragte vir die assessering van die leerders se gebruiksvaardighede ten opsigte van realiseringsmiddele van elkeen van die vyf kohesiemerkersoorte voorsiening te maak. Uit die bevindings van die klasopdragte het dit geblyk dat die graad 6- en graad 9-leerders kohesiemerkers in ’n redelike mate kon gebruik en dat hierdie klasopdragte met vrug as voorspellers van die leerders se prestasie in die vak Afrikaans Huistaal gebruik kan word.
Buiten die ontleding van kohesiemerkergebruik in leerderskryfwerk wou die navorser bepaal watter mate van prominensie in bepaalde, relevante onderwysdepartementele dokumente aan die onderrig van die effektiewe gebruik van kohesiemerkers op huistaalvlak aan Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders verleen word. Die kernbevindings waartoe die navorser in hierdie verband gekom het, is dat daar slegs in die departementele graad 6-werkboeke en die Jaarlikse Nasionale Assesseringsvraestel (JNAV) van graad 6 in ’n redelik hoë mate vir die onderrig of assessering van kohesiemerkergebruik voorsiening gemaak word. Daarteenoor word in die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklarings van Afrikaans Huistaal (KABV’s) van beide hierdie grade en in die graad 9-JNAV slegs ’n geringe mate van prominensie aan die onderrig of assessering van kohesiemerkergebruik verleen. Verwysing na die direkte onderrig van kohesiemerkergebruik kom veral by onderrigriglyne ten opsigte van langer skryftake, waar die onderrig van effektiewe kohesiegebruik logieserwys juis benut behoort te word, min voor.
Hierdie studie ressorteer nie suiwer binne die beskrywende Afrikaanse taalkunde nie, maar is ook onderwyskundig van aard. Om hierdie rede het die navorser die bevindings ten opsigte van kohesiemerkergebruik in leerderskryfwerk (d.i. in die korpora en in die kohesiemerker-klasopdragte) en dié van die dokumentanalise geïntegreer en op grond daarvan (binne die huidige taal-kurrikulum) onderrig-en-leeraktiwiteite ter potensiële verbetering van die leerders se gebruik van kohesiemerkers voorgestel.
Uit hierdie studie het dit duidelik geword dat die Departement van Basiese Onderwys groter prominensie aan die onderrig van effektiewe kohesiemerkergebruik behoort te verleen – onder andere deur die insluiting van eksplisiete aantekeninge oor kohesiemerkergebruik en onderrig-en-leeraktiwiteite soos dié wat in hierdie studie voorgestel word, in hand- en werkboeke. Die navorser beveel verder aan dat taalonderwysers hulle leerders doelbewus meer onderriggeleenthede moet skep waarby op kohesiemerkers en die gebruik daarvan gefokus word.
Collections
- Education [1690]
Related items
Showing items related by title, author, creator and subject.
-
Die verband tussen geselekteerde biografiese veranderlikes en Graad R-onderwysers se houding teenoor die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede van Graad R-leerders
Loubser, Annemarie; Pienaar, Anita E.; Klopper, Audrey (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2016)Die ontwikkeling van Graad R-leerders se perseptueel-motoriese vaardighede kan moontlik beïnvloed word deur die Graad R-onderwyser se houding. 'n Positiewe houding sal die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede ... -
Leesgeletterdheidsprofiel van graad 3 leerders
Venter, Aninda (North-West University, 2012)The report by the National Reading Panel (2002) in the USA and Department of Basic Education identified critical components of reading skills learners should master should they wish to progress from preschool non–readers ... -
Die verband tussen studie-oriëntasie, metakognisie en wiskundeprestasie by graad 7-leerders
Reynolds, Mignon (North-West University, 2006)The poor mathematics achievement of South African learners is a great shock and reason for concern in our country. The question is asked why the learners achieve so poorly and whether something can be done to improve ...