Persoonlikheidskomponente en unieke verwysingsraamwerk wat bevorderlik is vir ’n gesonde huweliksverhouding: ’n Pastorale studie
Abstract
Die tema van hierdie studie is: Persoonlikheidskomponente en unieke verwysings-raamwerk wat bevorderlik vir 'n gesonde huweliksverhouding is: 'n Pastorale studie. Die oogmerk van hierdie studie is die uiteindelike formulering van 'n strategies-teoretiese model met betrekking tot persoonlikheidskomponente en unieke verwysingsraamwerk wat bevorderlik vir 'n gesonde huweliksverhouding is. Hierdie studie is op Osmer se pastoraal-teologiese model geskoei. Hy maak van vier take gebruik, naamlik, die interpreterende taak, beskrywende taak, normatiewe taak en die pragmatiese taak. Die Interpreterende taak kom in hoofstuk 2 aan die orde. Die klem is hier op 'n literatuurstudie waarin daar op aanvullende riglyne vanuit die aanverwante wetenskappe met betrekking tot die tema van hierdie studie gefokus word. Hier het onder andere geblyk dat die psigologie asook die sosiologie al vir dekades lank navorsing oor persoonlikheidskomponente en profiele asook die sosiale gedrag van die mens doen. Die waarde van sodanige persoonlikheidsprofielmodelle, veral ook met betrekking tot die verhouding binne ‘n huwelik, het sterk na vore gekom. Die kerk in die algemeen sou in die toekoms inderdaad veel meer van sulke uiters bruikbare insigte en perspektiewe ter ondersteuning van bestaande huwelike, asook die begeleiding van jong voornemende huwelikspaartjies gebruik kan maak. Die Beskrywende taak kom in hoofstuk 3 aan die orde. Met gegewens reeds vanuit die voorafgaande hoofstukke beskikbaar, word daar in hierdie hoofstuk `n voorlopige model geformuleer met betrekking tot persoonlikheidskomponente en unieke verwysings-raamwerk wat bevorderlik vir 'n gesonde huweliksverhouding is. Die Normatiewe taak word in hoofstuk 4 bespreek. Die klem is hier op die eksegese van `n aantal toepaslike Skriftuurplase met betrekking tot die tema van hierdie studie. Die betrokke gedeeltes is die volgende: Genesis 2:18-24; Psalm 139:13-18; Romeine 12:3-8; 1 Petrus 3:7; Filippense 2:1-5 en Spreuke 12:4. Verskillende bruikbare riglyne met betrekking tot verhoudings binne die huwelik is geïdentifiseer. Steeds as deel van die normatiewe taak is ook hoofstuk 5 waar op 'n aantal belangrike perspektiewe vanuit pastoraal teologiese literatuur met betrekking tot die tema van hierdie studie gefokus word. In hierdie hoofstuk is daar ook in besonder op die tweede deel van die titel van hierdie studie gefokus naamlik, die unieke verwysingsraamwerk van beide die man en die vrou binne 'n huweliksverhouding. Die Pragmatiese taak kom in hoofstuk 6 aan die orde. Met behulp van die resultate vanuit al die voorafgaande hoofstukke word daar in hierdie hoofstuk ‘n strategies-teoretiese model saamgestel met betrekking tot persoonlikheidskomponente en unieke verwysingsraamwerk wat bevorderlik vir 'n gesonde huweliksverhouding is. Die voorlopige model, soos in hoofstuk 3 geformuleer, word nou hier met verdiepende aspekte vanuit die eksegese van hoofstuk 4, asook perspektiewe en riglyne vanuit die pastoraal-teologiese literatuur van hoofstuk 5 aangevul en uitgebrei. Daar is ook in hierdie studie van verskeie vraelyste gebruik gemaak ten einde sekere belangrike momente binne die onderskeie hoofstukke duideliker te kon omlyn. Al die tersaaklike vraelyste is by wyse van Bylaes aangeheg. Die rol van gebed het ook geblyk van besondere belang in die begeleiding van egpare te wees. Deur gebed bring die berader die egpaar na Jesus Christus vir begrip en herstel van gebroke en verwonde verhoudings.
Collections
- Theology [787]