Deelname in Plaaslike Regering en Demokratiese Konsolidasie in Suid-Afrika - 'n Analise
Abstract
Suid-Afrika is 'n nuwe demokrasie en daarom is die fokus van hierdie studie gerig op die konsolidasie van demokrasie met spesifieke verwysing na die plaaslike regeringsfeer. In hierdie verband is die kernaspekte wat teoreties en in die toepassing in wisselwerkende verband geanaliseer word: demokrasie met 'n spesifieke fokus op deelnemende demokrasie, plaaslike regering en demokratiese konsolidasie. Hierdie aspekte word oorweeg met spesifieke verwysing na deelname in plaaslike regering en geanaliseer aan die hand van wykskomitees en plaaslike protes. Die vraag wat hierdie studie gevolglik oorweeg is: Watter invloed in verbandhoudende konteks het wykskomitees en protes, as tipes van deelnemende demokrasie in hul bydrae tot die konsolidasie van demokrasie? Uiteindelik: Watter model vir gekonsolideerde demokrasie omvat deelname wat strek van wykskomitees tot protes? Die studie oorweeg in die eerste plek die aard van demokrasie op teoretiese vlak en bespreek die ontwikkelingsgang van verteenwoordigende en deelnemende demokrasie in die verband. Die gevolgtrekking is dat verteenwoordigende demokrasie te beperkend is en in wisselwerking met deelnemende demokrasie moet tree. Hierdie gevolgtrekking blyk duidelik uit die bespreking van veral deelnemende demokrasie wat op die omvattendheid van die begrip van demokrasie dui en ook voorbrand maak vir 'n meer radikale en kontesterende interpretasie van demokrasie, maar hou ook verband met die Suid-Afrikaanse begrip van demokrasie, soos ook vergestalt in die Grondwet en die interpretasie daarvan. Konsolidasie van demokrasie word geanaliseer aan die hand van die begrip van demokrasie wat in die studie toepassing vind. Dit blyk duidelik dat 'n meer substantiewe begrip van demokratiese konsolidasie geanker in populêre soewereiniteit belangrik is, wat ook deurentyd geskep moet word. Bepaalde aanduiders van konsolidasie blyk ook uit hierdie bespreking. Die toepassing van hierdie begrippe vind plaas in die afweging van wykskomitees as geïnstitusionaliseerde vorme van deelname teenoor plaaslike protes as nie-geïnstitusionaliseerde vorme van deelname in die plaaslike regeringsfeer. Hier blyk dit dat die uitdagings in beide vorme van deelname soortgelyk is en spreek tot die waardes van demokrasie en ook dienslewering, beide verbandhoudend met die tweekantigheid van plaaslike regering soos in hierdie studie verstaan. Beide wykskomitees en plaaslike protes dui ook op 'n kwaliteit van stryd tussen die owerheid en burgery ten einde die Idee en Praktyk van demokrasie bymekaar te bring. Dit word voorgestel dat demokrasie en uiteindelik demokratiese konsolidasie in 'n tussenruimte tussen die Idee en Praktyk deur hierdie rolspelers geskep en betekenis aan gegee moet word. Die studie stel 'n model van hierdie skeppende en strydende demokrasie voor waarin wykskomitees en plaaslike protes in 'n wisselwerkende verhouding met plaaslike regering betekenis gee aan demokrasie en ook die aanduiders van wat konsolidasie sou behels, kan aktualiseer. Gebaseer op die aanduiders in hierdie tussenruimte in die Suid-Afrikaanse toepassing van wykskomitees en plaaslike protes is die vooruitsigte vir konsolidasie positief. Dit word dus voorgestel dat 'n omvattende begrip van demokrasie vereis word vir konsolidasie in plaaslike regering en Suid-Afrika in die algemeen. Die idee van skeppende strydende demokrasie wat in hierdie studie geartikuleer is, omvat 'n begrip van demokrasie wat verby die enkelsydigheid van bloot verteenwoordigende demokrasie of bloot deelnemende demokrasie kyk, ten einde die verwikkeldheid van wat demokrasie in werklikheid is, te artikuleer. Sodoende kan 'n tekortkoming in demokratiese teoretisering aangespreek word.
Collections
- Humanities [2671]