An evaluation of Calvin's theological position against the libertines
Abstract
In die loop van die sestiende eeu het verskeie radikale sektes Calvyn se pogings tot hervorrning probeer kortwiek. Een hiervan, die Libertyne, is die onderwerp van Calvyn se traktaat Teen die Libertyne (1545).
Hierdie traktaat is 'n snydende aanval op die leerstellinge en praktyke van hierdie sektariese groep wat hulleself die Libertynse Geestelikes genoem het. Volgens Calvyn was die Libertyne die gevaarlikste en die giftigste van die sektes en was dit nodig om hulle onteenseglik te repudieer. In die lig van die belang van hierdie sekte in die raamwerk van Calvyn se denke is dit nogal verrassend dat min studies hieroor nog onderneem is, waar uitvoerige studies reeds gedoen is oor 'n ander sekte van die tyd, naamlik die Anabaptiste. Die rede vir die gebrek aan enige omvattende studie kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat dit wil
voorkom of die sekte verdwyn het in die mis van die geskiedenis en in anonimiteit. Ten spyte hiervan bly die stryd tussen die Libertyne en Calvyn nog 'n belangrike studieveld. In die verband werp die traktaat
lig op Calvyn se eie leerstellinge wat hy uiteensit in sy argumente teen die Libertyne. Calvyn se Traktaat bestaan uit drie dele, waarvan die eerste te doen het met die verhouding tussen die Libertyne en ander ketterye. Die oorsprong en die ontwikkeling van die sekte word ook deur Calvyn nagegaan. Die tweede en hoofdeel sluit die hoofleerstellinge van die Libertyne in, sowel as hulle etiek. Die derde deel bevat uittreksels uit 'n boekie van die Libertyne en ook Calvyn se laaste waarskuwing. Hierdie proefskrif gebruik Calvyn se Traktaat as die hoofbron van studie, en vul dit aan deur verwysings na Calvyn se lnstitusie en Kommentare. Na die inleidende hoofstukke oor die definisie en oorsprong van die
Libertynse sekte, konsentreer die studie op die leerstellinge van die Libertyne wat Calvyn nou keu rig weerspreek. In die hoofstukke wat te doen het met leerstellinge van die Libertyne staan panteistiese determinisme uit as die kernleerstelling. Die Libertyne
glo dat alle geskape dinge van een enkele onsterflike siel uitgaan en daarin deel het. Vanuit hierdie basis kom hulle dan tot die slotsom dat, in die lig daarvan dat die geestelike natuur sy tuiste in die mens vind,
geen kwaad of sonde die mens kan aanraak nie. Calvyn konfronteer hierdie leerstelling met sy leerstelling van God se universele
voorsienigheid, wat 'n duidelike onderskeid maak tussen God se aktiwiteit en die mens se aktiwiteit. God regeer, modereer, en lei alle dinge, maar die mens behou 'n individuele wil en vryheid van keuse wat hom
verantwoordelik maak vir sy handelinge. Hierdie panteeisme word ook uitgebrei na hulle sienings oor Christus, herlewing, en opstanding. Die Libertynse Christus is 'n Christus wie se reddende werk bestaan uit die herstel van die mens tot 'n perfekte,
sondelose staat. Regenerasie beteken dus om to ontwaak tot die bestaan van 'n volmaakte staat wat eintlik altyd bestaan het. Dit volg dus hieruit dat daar geen noodsaak is vir 'n toekomstige opstanding nie. In Calvyn se argument teen hierdie Christologie, word sy geloof in die korrupte
aard van die mens en die absolute noodsaak om mens se hoop te vestig op die toekomstige opstanding duidelik uitgespel.
Die Libertyne het ook die Woord as die finale gesag verwerp. In die plek daarvan plaas hulle hulle vertroue in die Gees, wat hulle in teenstelling met die Woord plaas. In sy verwerping argumenteer Calvyn ten gunste
van die primaat van die Woord van God sonder om die belangrike rol wat die Gees speel in die oordrag van die Woord te ontken. In die hoofstuk wat te doen het met die etiek van die Libertyne word Calvyn se eie etiek vertoon - 'n etiek wat opgesom kan word as 'n etiek van liefde vir die naaste. Die Libertyne, daarteenoor, baseer hulle etiek
op hulle opvatting van Christelike vryheid wat hulle toelaat om hulle antinomiese gedrag vrye teuels te gee. Terwyl die Libertyne enige beheer oor hulle lewens verwerp wat deur die Wet vereis word, voer
Calvyn aan dat waar die wet se eise aangepas is, die 'n "rule for right living" bly . Ten spyte daarvan dat dit in die algemeen deur Calvynkenners verwaarloos is, bly die Traktaat 'n helder en belangrike bydrae tot 'n
begrip van Calvyn se teologie. Behalwe dat dit 'n beskrywing is van die Libertynse sekte, bly Calvyn se teologiese en etiese argumente nodige basisse vir studie en nadenke.
Collections
- Theology [793]