Suid-Afrikaanse visuele response tot geslagsgebaseerde geweld
Abstract
Geslagsgebaseerde geweld (GGG) is ʼn brandende samelewingskwessie wat verskeie mense wêreldwyd affekteer. In Suid-Afrika kan dit selfs as ʼn pandemie beskryf word, veral in ag genome die daaglikse dade van geweld wat teenoor vroue hier gepleeg word. Dit is dus van groot belang om GGG en moontlike vehicles daarteen te ondersoek. In hierdie studie word visuele response vanuit drie geïdentifiseerde groeperings, naamlik regeringsresponse; openbare kunswerke daargestel deur individuele kunstenaars, nieregeringsorganisasies (NRO’s) en plaaslike gemeenskappe; en kunswerke vanuit museum- en galeryomgewings, krities beskou as response teen GGG in Suid-Afrika.
Die gekose response word aan die hand van Jacques Rancière se konseptualisering van die verspreiding van die aanvoelbare (Engels: distribution of the sensible, Frans: partage du sensible) bespreek met Jean-François Lyotard se konsep van die differend wat aanvullende insigte bied. Dié response word verder beskou volgens relevante konsepte vanuit hierdie studie se kontekstuele agtergrond, naamlik GGG. Hierdie beskouings rig die ondersoek na die gekose response om te toon hoe hulle kan dien as diskursiewe platforms teen GGG waar oorlewendes en slagoffers van GGG op hoorbare en sigbare wyses hulle GGG-ervarings met ʼn groter gehoor kan deel. Verder word hierdie response ook beskou as vorme van bewusmaking rakende GGG en die impak daarvan, en as vehicles waardeur genesende gesprekvoering kan plaasvind.
GGG word beskryf as enige vorme van geweld wat op ʼn persoon gemik is weens hulle biologiese geslag en hulle gekose genderidentiteit. Dit affekteer egter tot ʼn ekstreme mate vroue en/of persone wat as vroulik identifiseer. Om hierdie rede fokus die studie op vroue as die oorlewendes en/of slagoffers van GGG. Patriargale beskouings binne die Suid-Afrikaanse samelewing dra by tot vroue se ervarings van GGG, aangesien dit hulle mag en agentskap binne die groter samelewing kan beperk. Buiten vir die patriargie is daar ʼn aantal ander faktore verwant aan die voorkoms en voortbestaan van GGG, byvoorbeeld stereotipes en stigmas (soos dat ʼn vrou se kleredrag beskou kan word as ʼn rede om haar leed aan te doen) en gebrekkige stelsels van reg en geregtigheid
Die verspreiding van die aanvoelbare beskryf die bestaande grense binne ʼn samelewing wat bepaal wie ʼn hoorbare en sigbare posisie daarin vervul. Rancière se konseptualisering van die verspreiding van die aanvoelbare en ander verwante konsepte, soos politiek (Engels: politics; Frans: la politique) en subjektivering (Engels: subjectification; Frans: la subjectivation), bied insigte tot die gekose response, aangesien dit duidelikheid bied oor die ruimtes waarbinne oorlewendes en/of slagoffers hoorbaar en sigbaar kan wees. Die differend
beskryf ʼn onoorkombare verskil tussen twee of meer partye. Die differend en verwante konsepte, soos litigasie en ʼn wandaad (Engels: wrong; Frans le tort), se toepassing op die gekose response bied ʼn perspektief op die vereistes vir oorlewendes en/of slagoffers om hulle status as ʼn “slagoffer” te oorkom en hulself so te bemagtig deur ʼn stem te kry in die stryd teen GGG. Die verspreiding van die aanvoelbare en die differend is beide gefokus op die “ander” en hulle posisie binne die samelewing. Om hierdie rede vorm beide deel uit van hierdie studie se analitiese benadering.
Die ondersoek bevind dat die regeringsresponse wat bespreek word in hierdie studie meestal maklik verstaanbaar is, met duidelike boodskappe. Dit kom egter voor asof hierdie response ʼn gebrek aan sensitiwiteit toon vir slagoffers en/of oorlewendes van GGG. Tog bevorder dié response bewustheid rakende GGG en die impak daarvan. Die openbare kunswerke daargestel deur individuele kunstenaars, NRO’s en plaaslike gemeenskappe bespreek in dié studie bevorder ook bewustheid rakende die kwessie. Hierdie response is maklik toeganklik en toon gewoonlik ʼn meer persoonlike benadering tot GGG. Dié response bied aan slagoffers en/of oorlewendes die nodige ruimte om hoorbaar en sigbaar te word. Die kunswerke vanuit galery- en museumomgewings bespreek in hierdie studie dien ook as vorme van bewusmaking wat aan slagoffers en/of oorlewendes die geleentheid bied om hoorbaar en sigbaar te word. Dié response is gewoonlik moeiliker verstaanbaar, maar kan meer deelnemend wees. Hierdie response is geskik as diskursiewe platforms waardeur genesende gesprekvoering kan plaasvind. Die gekose visuele response vervul dus nie almal dieselfde funksies in die stryd teen GGG nie, maar almal dien as vorme van diskursiewe platforms wat ’n bydra lewer tot die groter diskoers jeens GGG.
Collections
- Humanities [2697]