"Bloed" (uit Melk): Tuiskoms in Afrika
Abstract
‘n Groot gedeelte van Elsa Joubert se vroeë oeuvre word tematies oorheers
deur die wyse waarop die mens van Afrika telkens nuwe insigte vorm
omtrent die werklikheid van diepgeankerde wortels in verskillende
wêrelde: Europa, Afrika en die Ooste. Om “aan die een kant ‘vasgebind’
te wees aan jou eie mense, aan jou vaderland, jou volk, en om aan die
ander kant ’n persoonlike morele kompas te volg wat wegwys van ’n
uitsluitende en onderdrukkende nasionalisme”, is ’n spanning wat Willie
Burger (2016:523) as sentraal in Joubert se oeuvre beskou. Die waarheid dat ’n individu verskeie identiteite kan hê, wisselend in
prominensie oor die verloop van tyd heen en na gelang van hoe daardie
individu beleef dat daar ingepas word binne ’n spesifieke plek- en
tydkonteks (Ryan en Deci, 2003:255), word tematies goed in Joubert se
skryfwerk gedemonstreer. In Ons wag op die kaptein (1963) sowel as in Bonga
(1971) vind die leser die motief van die vreemdeling in Afrika. In Die nuwe
Afrikaan (1975) word die reisiger se groeiende emosionele betrokkenheid
by Afrika uitgespel: sy is Afrikaan van herkoms, dus van instelling; sy
vereenselwig haar met die problematiek van Afrika. Teen die einde van
die reis in Gordel van smarag (1997) word tot die slotsom gekom dat die
Ooste “al hoe meer die derde hoek van ’n driehoek – Holland, Afrika, die
Ooste – vir ons hier aan die Kaap” word (Joubert, 1997:134). Afrikaans
word uiteindelik die bindende faktor tussen die drie hoeke van dié
erfenisdriehoek. In hierdie taal, skryf Joubert (1997:149), “is ek nie ’n
tussenlander nie. Ek is tuis in my taal, en my taal is tuis in Afrika.” In die verhaal “Bloed” uit Melk (1980) gebeur die sonderlinge, naamlik
die uitbeelding van die saamtrek van verskillende belewenisse van
identiteit by ’n enkele karakter oor ’n tydperk van slegs vier-en-twintig
uur. Met die vertrek op Hester se reis stem haar belewing ooreen met dié
van die karakters in Joubert se werk in die 1960’s, wat met aspekte van
vreemdelingskap in Afrika gekonfronteer word. Hierdie identiteitsbele wing word egter drasties beïnvloed tydens ’n dagreis in “Bloed”; dit stem
uiteindelik ooreen met dié van die karakters in Joubert se werk sedert die
middel van die 1970’s, waarin tekens van vereenselwiging met die mense
en situasie van Afrika al hoe duideliker is.
Collections
- Faculty of Education [759]