Die verband tussen die leierskapsfilosofie en motiveringsrol van die skoolhoof
Abstract
Die proefskrif fokus op die verband tussen die leierskapsfilosofie en motiveringsrol van die
skoolhoof. Tot hierdie tema staan die navorsingsdoelstellling, naamlik om ʼn instrument in die
hand van skoolhoofde te plaas, bestaande uit ʼn leierskapsfilosofie wat geïnkorporeer kan word
in die motiveringsrol van die skoolhoof. Hoofstuk 2 verlig kompleksiteitsteorie en
kompleksiteitsleierskap binne die konteks van die skool as organisasie.
Kompleksiteitsbenadering verteenwoordig die transformering van konserwatiewe wette na ʼn oop
en hoogs dinamiese stelsel. Kompleksiteit is die brug tussen modernisme aan die een kant en
postmodernisme aan die ander kant. Kompleksiteit veroorsaak beweging en dit is juis hierdie
beweging van kompleksiteit wat ʼn dinamisering van leierskap na vore laat kom en dit in aksie laat
oorgaan. Daar word skerp gefokus op kompleksiteitsleierskap. Hoofstuk 3 hou hom besig met die
aard van leierskapsfilosofieë binne die konteks van skoolleierskap. Die tradisionele
leierskapsfilosofieë van Taylor, Fayol, Gulick en Urwick en Weber is bespreek, sowel as die
moderne algemene leierskapsfilosofieë van Smuts, Ubuntu en Frankl. Hoofstuk 4 kondig die
motiveringsteorieë wat deur die hoof gebruik kan word aan, naamlik die van Allport (1940);
Maslow (1954); Herzberg (1959); McGregor Teorie X en Y-teorie (1960); Vroom (1964); Van
Peursen (1970); Hersey en Blanchard (1982) en Fazio. Hoofstuk 5 en 6 is die empiriese
ondersoek, sowel as die analisering van die data. Hoofstuk 7 rol ʼn nuwe model uit. In hoofstuk 8
word die navorsingsvrae beantwoord en die nodige bevindings en aanbevelings word gelewer.
Daar is ʼn besliste verband tussen die leierskapsfilosofie en motiveringsrol van die hoof.
Collections
- Education [1687]