'n Assessering van die interne kommunikasiestrategie van 'n privaatsektor hoëropleidingsinstelling
Abstract
Doel: In hierdie studie bied die navorser ʼn assessering en analise van ʼn interne kommunikasiestrategie binne ʼn privaat hoëronderwysinstelling. Hierdie analise ondersoek die prosesse en strukture wat gebruik word binne die private hoëronderwysinstelling, en stel riglyne voor om effektiewe kommunikasie binne ʼn private instelling te optimaliseer.
Deur hierdie studie poog die navorser om die volgende primêre en sekondêre doelwitte te bereik:
Primêre doelwit: Om die interne kommunikasiestrategie van ʼn privaatsektor hoëronderwysinstelling te assesseer.
Sekondêre doelwitte:
• Om die aard van ʼn plat organisasiestruktuur volgens literatuur te bepaal.
• Om die aard van Akademia se plat organisasiestruktuur te bepaal.
• Om die aard van interne kommunikasie volgens literatuur te bepaal.
• Om die aard van Akademia se interne kommunikasie te bepaal.
Hierdie studie poog om by te dra tot die verstaan van interne kommunikasie binne organisasies in terme van struktuur om effektief en suksesvol te wees. Die navorsing gaan help om prosesse en stelsels in plek te sit wat om interne kommunikasie vir organisasies met ʼn plat organisasie-struktuur te verbeter. Die uitkomste hiervan gaan organisasies help om hulle eie interne kommunikasie en struktuur beter te verstaan, en om prosesse in plek te sit om effektief te kommunikeer. Groepe wat hierby kan baat vind is enige organisasie wat groei ervaar, hulle kommunikasie intern wil verbeter, menslikehulpbronbeamptes wat getaak is met interne kommunikasie, strategiese bestuur en werknemers. Die niewinsgewende industrie sowel as die privaat hoër onderwys industrie sal ook hierby baat.
Ontwerp / metodologie / benadering: ʼn Kwantitatiewe vraelys wat deur die navorser self opgestel is, word gebruik om data van werknemers in te samel ten einde die spesifieke
navorsingsvrae te beantwoord. ʼn Kwantitatiewe vraelys in die vorm van ʼn meningsopname vir alle personeel (nie net vir ʼn spesifieke posvlak nie) en vrae wat daarmee verband hou, is gebruik in hierdie studie met ʼn reaksie koers van 61,6% uit ʼn steekproef van 112 werknemers.
Bevindinge: Die resultate toon dat Akademia gebruik maak van ʼn plat organisasiestruktuur waarbinne daar ʼn positiewe verband ten opsigte van effektiewe interne kommunikasie gemaak kan word. Die uitslag het ook aangedui dat daar uitdagings ervaar word rakende die interne kommunikasie tussen bestuur en sekere afdelings. Daar is ook ʼn duidelike verband tussen die plat organisasie struktuur en die stimulering van spanwerk. ʼn Direkte verband kan ook getrek word waar daar effektief gekommunikeer word en personeel se werksaamhede en suksesvolle uitvoering en verstaan van hul rol binne die organisasie. Bestuur moet oplossings implementeer om die uitdagings wat ervaar word rakende miskommunikasie spoedig aan te spreek.
Beperkings: Binne hierdie studie is daar beperkings geïdentifiseer en aanbevelings vir toekomstige navorsing gemaak.