Die prominente rol van Petrus as dissipel in die Matteus-evangelie
Abstract
Die doel van hierdie studie is om die prominente rol van Petrus onder die dissipels in die Matteus-evangelie na te vors. Dat Petrus 'n prominente dissipel en apostel was, is duidelik uit die Nuwe Testament. Die Markus-evangelie gee die meeste aandag aan Petrus, maar die Petrus-prominensie kan veral ook in die Matteus-evangelie waargeneem word. 'n Belangrike tema van die ondersoek in hierdie studie is die sogenaamde anti-Pauliniese sentiment wat in die Matteus-evangelie sou bestaan. Reeds in die vorige eeu het 'n hipotese ontstaan dat Matteus vir Petrus prominent in die evangelie wou voorstel om sodoende 'n invloed of nalatenskap van Paulus in Antiochië teë te werk. Hierdie hipotese is deur Brandon (1978), Manson (1964) en Sim (1998, 2002) ontwikkel. Die sentrale teoretiese argument in die studie is dus: Die vername rol van Petrus in die Matteus-evangelie dien as voorbeeld (prototipe) vir dissipelskap en moet nie as 'n anti-Pauliniese sentiment beskou word nie. Eerstens is 'n literatuurstudie onderneem om vas te stel wat die stand van navorsing oor die rol van Petrus as dissipel in die Matteus-evangelie is. Dit het duidelik geword dat Petrus inderdaad 'n vername rol in die vroeë kerk gespeel en ook 'n vername posisie onder die dissipels van Jesus beklee het. Daar is veral gekonsentreer op die siening dat die evangelie 'n skynbaar anti-Pauliniese sentiment bevat. Daar is ook aandag gegee aan die bewering dat Matteus, as die outeur van die evangelie, deur redaksionele werk vir Petrus prominenter probeer voorstel het om teen so 'n Pauliniese invloed te reageer. Voorstanders van hierdie hipotese neem Matteus 16:18—19 as die kernteks vir die anti-Pauliniese sentiment, maar daar is ook ander tekste wat hiervoor gebruik word (Matt. 5:17—19; 7:23; 13:24—30; Gal. 2:11—15). Petrus word egter positief en negatief voorgestel en dit is dus onwaarskynlik dat Matteus vir Petrus prominenter probeer voorstel het om teen Paulus te reageer. Uit die literatuurstudie het dit duidelik geword dat Petrus ook as woordvoerder en verteenwoordiger van die dissipels op die voorgrond tree, maar hy word ook in hierdie opsig positief én negatief voorgestel. Hierdie positiewe-negatiewe voorstelling kan ook waargeneem word in sy voorbeeld as 'n dissipel en daarom kan daar gesê word dat hy net 'n normale mens met sterk persoonlikheidseienskappe, maar ook swakhede was. Uiteindelik het Matteus Petrus as 'n model vir dissipelskap voorgestel. Petrus word verder beskryf as iemand wat 'n impulsiewe karakter gehad het (Matt. 14:28—29; 17:4; Mark. 9:5; Joh. 13:8—9; 18:10) en daarom is die moontlikheid ondersoek dat sy persoonlikheid tot sy prominensie bygedra het. Om vas te stel hoe sy persoonlikheid 'n invloed op sy prominensie kon hê, is sy persoonlikheidstrekke teen die agtergrond van 'n narratief-kritiese benadering geïdentifiseer. Daar is bevind dat sterk persoonlikheidstrekke (impulsiwiteit, hardwerkendheid, nederigheid, inisiatief, ondersoekendheid, leergierigheid en sterk standpunt wat hy as morele entrepreneur inneem) ook 'n rede vir sy prominensie in die Matteus-evangelie is. Petrus se prominensie ten opsigte van sy persoonlikheid is ook aan Jeremia 1:5 gekoppel. Indien die soewereiniteit van God aanvaar word, beteken dit dat Jesus, as God, hom geken het voordat Hy hom geroep het. Jesus het geweet hoedat Petrus geformeer is en het daarom geweet watter tipe temperament hy gehad het. Hy is doelgerig gekies om met sy persoonlikheid in te pas in God se plan met Jesus Christus en die wêreld. Volgens hierdie gegewens is dit duidelik dat die prominensie van Petrus in Matteus gedeeltelik toegeskryf kan word aan die uitbeelding van sy sterk persoonlikheid, maar daar kan steeds nie gesê word dat die prominensie bedoel was om die invloed van Paulus teen te werk nie. Daar is aanvaar dat Matteus bronne vir die evangelie gebruik het en dit was dus belangrik om vas te stel of hierdie bronne 'n invloed gehad het op sy prominente uitbeelding van Petrus. Die fokus was op die manier hoe Matteus sy bronne gebruik het en daar is van die vooronderstelling uitgegaan dat Matteus van Markus en die Qbron (twee-bron-hipotese) afhanklik was as die basis van die evangelie. Hierdie ondersoek sou dus die tendens dat die Petrus-prominensie uit die bronne oorgedra is, kon uitwys. Dit het geblyk dat dit inderdaad die geval is: Matteus het die basis van die Petrus-prominensie uit sy bronne oorgeneem en dit is veral ontleen aan die Markusevangelie. Die evangelie bevat egter ook Sondergut en Matteus se unieke uitbeelding van Petrus kom veral in drie gebeurtenisse na vore: Petrus wat op die water loop en deur Jesus gered word (Matt. 14:22—36); Petrus se belydenis van Jesus as die Messias en Seun van die lewende God (Matt. 16:16—19); en Petrus se vraag na die tempelbelasting (Matt. 17:24—27). Die vraag is waarom Matteus hierdie unieke stof oor Petrus bygewerk het en die ondersoek het resultate gelewer. Daar is bevind dat alhoewel dit in sommige van die Sondergut-gedeeltes wil voorkom asof Petrus se status benadruk word, daar nie gesê kan word dat Matteus hom doelbewus prominenter probeer voorstel om hom bo enige ander dissipel of apostel te verhef nie. Laastens is Petrus se ouderdom as bydrae tot sy prominensie in die Matteus-evangelie ondersoek. Die Sondergut in Matteus 17:24—27, wat oor die tempelbelasting handel, is hiervoor gebruik. 'n Sosiaal-wetenskaplike studie is onderneem en die sosiale konteks, ouderdom en groepe in die Mediterreense wêreld van die eerste eeu is ondersoek en op die teks toegepas. Daar is bevind dat tyd 'n fundamentele rol in die destydse Mediterreense kultuur gespeel het en dat kronologie (op grond van ouderdom) bepaal het wie voorrang gehad het; daarom het die oudste in 'n groep ook meer gesag gehad. 'n Literatuurstudie oor die wet op tempelbelasting vanaf die Eksodus-tyd tot in die eerste eeu het aan die lig gebring dat die halfsikkel belasting jaarliks gevorder is en deur alle mans van twintig jaar en ouer betaal is. Daar is ook ondersoek ingestel na die belastingpligtiges van 17:24—27 en daar behoort geen twyfel te wees dat Jesus en Petrus belastingpligtig was nie. Verder is bevind dat Petrus waarskynlik die oudste van die dissipels was en dat dit aan hom voorrang (eer) in die dissipelgroep van Jesus gegee het. Uiteindelik is die gevolgtrekking dat Matteus nie doelbewus vir Petrus prominent probeer voorstel het om teen Paulus te reageer nie, maar die redes vir die Petrusprominensie kan eerder gevind word in Petrus se persoonlikheid, Matteus se oorname van bronne en die waarskynlikheid dat Petrus die oudste van die dissipels was.
Collections
- Theology [787]