Die vokaalstelsel van Genadendalse Afrikaans: 'n verkenning
Abstract
Hierdie artikel is ’n verslag van ’n akoestiese ondersoek na aspekte van die vokaalstelsel van Genadendalse Afrikaans (GA), ’n belangrike variant van Bruin Afrikaans wat in die Wes-Kaap gepraat word. Dit word vergelyk met die vokaalstelsel van Standaardafrikaans (SA). Dit word gedoen teen die agtergrond van ’n oorsig oor beskikbare beskrywings van die klankleer van Afrikaanse spraakvariëteite. Die doelstelling van die huidige ondersoek was om ’n beskrywing te doen van die vokale van GA. Agt sprekers – vier jonges van onder 20 jaar, en vier gemiddeld 71 jaar oud – se uitspraak van 122 woorde is ontleed. Altesaam is 4 780 vokaalsegmente ondersoek (al die kort en lang vokale en ook die drie egte diftonge). Die bevindinge betreffende SA waarmee die resultate hiervan vergelyk is, is gegrond op die uitspraak van ’n vooraanstaande radiopersoonlikheid. Resultate is weergegee in die vorm van presiese tabelle en akoestiese vokaalkaarte. Dit is bevind dat die stelsels van GA en SA grootliks ooreenkom. Opvallende verskille wat aan die lig gekom het, sluit die volgende in: GA ontrond selfs méér as wat die geval is by die SA-spreker (hoewel sy waarskynlik meer rond as wat in Afrikaans oor die algemeen die geval is). Die GA-produksie van beide groepe sprekers van die hoë agtervokaal /u/ en van die lang /a/ is merkbaar anders as dié van SA. Die /u/ van GA is ’n klassiek ronde hoë agtervokaal, vergelykbaar met dié van Nederlands, terwyl SA s’n opvallend gesentraliseerd is, soos wat oor ’n wye front in SA oor die algemeen opgemerk word, veral in die geval van jong vroulike sprekers. Die kort /ɑ/ en die lang /a/ van beide groepe sprekers van GA verskil slegs wat betref lengte; hulle het ’n byna identiese formantstruktuur; beide word met hoër F2-waardes geproduseer, wat dit meer na links in die akoestiese vokaalkaart plaas as dié van SA, wat dit “platter” laat klink as dié van SA. Laasgenoemde se /a/ is weliswaar nie so gerond soos wat in die spraak van sommige jonger SA-sprekers gevind word nie, maar wel duidelik verskillend van dié van die GA-sprekers. Die karakterisering van die middelhoë voorvokaal /ɛ/ van die Afrikaans van bruin sprekers oor ’n wye front geld ook in die geval van GA. Ook hier verlaag hierdie vokaal – soos in veral die noordelike streke van die land wel die geval is – nie voor /r k x/ nie, dog maar wel voor /l/; trouens, dit neem ’n sterk gepalataliseerde karakter aan. Dit geld die uitspraak van sowel die ou as die jong groep GA-sprekers.
URI
https://www.litnet.co.za/die-vokaalstelsel-van-genadendalse-afrikaans-n-verkenning/http://hdl.handle.net/10394/28176
Collections
- Faculty of Humanities [2042]