Die invloed van selfgerigteleergereedheid op die aanleer van die blindtiktegniek
Abstract
Die QWERTY-toetsbord word wêreldwyd gebruik om data op rekenaars in te tik. Mense wat oor die blindtiktegniek ten opsigte van toetsbordvaardigheid beskik, is in staat daartoe om data baie vinniger in te tik. Dit blyk uit die literatuur dat toetsbordvaardigheid volgens die blindtiktegniek bydra tot hoër produktiwiteit ten opsigte van die invoer van data op rekenaars en daarom is dit noodsaaklik dat rekenaargebruikers hierdie vaardigheid moet aanleer.
Studente van die opleidingsinrigting waaraan die outeur verbonde is wat van voorneme was om Rekenaartoepassingstegnologie (RTT) op skool te gaan onderrig, moes ’n toetsbordvaardigheid-handleiding (voortaan TBV-H) saamstel ten einde hulle eie toetsbordvaardigheidsvlak te verbeter en hulle in staat te stel om toetsbordvaardigheid volgens die blindtiktegniek vir RTT-leerders te kan onderrig. Verskeie spoedtoetse is getik om hulle toetsbordvaardigheidsvlak te bepaal.
Die studente het ook ’n selfgerigteleergereedheidsvlak-vraelys ingevul, met die doel om hul selfgerigteleergereedheidsvlak te bepaal. Die doel van die navorsing was enersyds om te bepaal of die saamstel van ’n toetsbordvaardigheid-handleiding wat aan bepaalde kriteria voldoen, kan bydra tot die aanleer of die verbetering van toetsbordvaardigheid, en andersyds om te bepaal of selfgerigteleergereedheid ’n invloed het op die verhoging van / toename in tikaanslae-telling. Uit die navorsingsresultate het dit oor die algemeen geblyk dat dié studente met ’n gemiddelde selfgerigteleergereedheidsvlak en dié met ’n hoë selfgerigteleergereedheidsvlak se aantal aanslae in die natoets in ’n redelike mate toegeneem het. Hierteenoor het studente met ’n hoë selfgerigteleergereedheidsvlak, en dié wat minder as 1 500 aanslae in die voortoets getik het, se aanslae in die natoets aansienlik toegeneem.
URI
https://www.litnet.co.za/die-invloed-van-selfgerigteleergereedheid-op-die-aanleer-van-die-blindtiktegniek/http://hdl.handle.net/10394/27017
Collections
- Faculty of Education [759]