Differential urbanisation and regional policy : the case of the Gauteng Functional Metropolitan Region
Abstract
Streekontwikkelingsbeleid en differensiële verstedeliking is twee fundamentele temas binne die ruimtelike beplanningsveld.
Streekontwikkelingsbeleid is veral sedert die Tweede Wêreldoorlog in Europa geïmplementeer, waar regerings besef het dat die vryemarksisteem nie noodwendig optimale ekonomiese groei op streekvlak
verseker nie. Doelwitte Die primêre doelwit van hierdie studie is die integrering van effektiewe en volhoubare streekontwikkelingsbeleid met die konsep van differensiële verstedeliking, ten einde 'n effektiewe stedelike bestuursmeganisme daar te stel. Sekondêre doelwitte sluit in:
* om die beginsels en doelwitte van streekontwikkelingsbeleid en
streekontwikkelingsinstrumente te bepaal;
* die analisering van Suid-Afrikaanse streekontwikkelingsbeleid in terme van bogenoemde klassifikasie; * ondersoek na die teoretiese en praktiese toepassings van die differensiële verstedelikingsmodel;
* om die geldigheid van die differensiële verstedelikingsmodel te bepaal in die Gauteng Funksionele Metropolitaanse Streek; en * om relevante streekontwikkelingsbeleid te integreer met sosio-ekonomiese tendense in 'n stedelike sisteem, met spesifieke verwysing na die Gauteng Funksionele Metropolitaanse Streek. Metodiek Die rasionaal vir die formulering van streekontwikkelingsbeleid word in Hoofstuk Twee beskryf. Regerings en ander streekowerhede formuleer
streekontwikkelingsbeleid ten einde spesifieke doelstellings te behaal. Hierdie doelstellings verander met tyd en is gewoonlik streekspesifiek. Die relevante owerheid of instansie neem 'n besluit in terme van bogenoemde fundamentele benaderingswyses, waarna 'n keuse ten opsigte van spesifieke beleidsopsies en -instrumente geneem word. Hoofstuk Drie
beskryf laasgenoemde beleidsinstrumente asook meer gedetailleerde beleidselemente soos wat dit op projekvlak geïmplementeer word. In Hoofstuk Vier word die geskiedkundige implementering van
streekontwikkelingsbeleid in Suid-Afrika en spesifiek vir die Gauteng- en omliggende streek, ondersoek. Die Gauteng Funksionele Metropolitaanse Streek het reeds 'n gevorderde vlak van stedelike ontwikkeling binne die Suid-Afrikaanse konteks bereik en was histories instrumenteel in die
implementering van streekontwikkelingsbeleid. 'n Sentrale tema in hierdie studie, is die beginsel dat stedelike komplekse 'verouder' met tyd. Soos wat hierdie stedelike komplekse ontwikkel, kan
verskillende migrasie- en ekonomiese produksiepatrone onderskei word in
dieselfde areas, maar die patrone is georiënteer in verskillende rigtings en
gebaseer op verskillende motiverings. Hierdie tendense word deur die differensiële verstedelikingsmodel in Hoofstuk Vyf aangespreek. Na die afskaffing van diskriminerende wetgewing, is die verwagting dat die bevolkingsgetalle van groter stedelike komplekse vir 'n aansienlike
tydperk steeds sal toeneem. In Hoofstuk Ses word hierdie migrasieprosesse, asook veranderende produksiepatrone in die
studiegebied ontleed, gebaseer op die resultate van die mees onlangse sosio-ekonomiese opnames. Bevindings Uit die studie blyk dit duidelik dat streekontwikkelingsbeleid steeds
geïmplementeer word in reaksie op bepaalde ongelykhede in 'n streek.
Laasgenoemde verwys gewoonlik na hoe vlakke van werkloosheid en kwynende ekonomiese sektore in sekere stede. Die voorstel in die studie is die vroegtydige formulering van streekontwikkelingsbeleid vir al die elemente binne die stedelike sisteem, gegewe die huidige ontwikkelingsvlak in terme van die differensiële verstedelikingsmodel.
Hier volgens kan sentra met toenemende ekonomiese- en bevolkingsgroei
vroegtydig geïdentifiseer en ontwikkeling bevorder word. Soortgelyk, kan plekke met kwynende ekonomieë en bevolkingsgetalle ondersteun word in die fase van stedelike groei. Die sosio-ekonomiese profiel van die studiegebied, naamlik die Gauteng
Funksionele Metropolitaanse Streek, het in die studie bewys dat dit 'n identifiseerbare ontwikkelings- of 'verouderingsroete' gevolg het sedert die 1960s. Dit is ook duidelik in die studie dat die effektiwiteit van streekontwikkelingsbeleid en die volhoubaarheid daarvan gewoonlik
omgekeer eweredig is aanmekaar: soos volhoubaarheid toeneem, neem
ekonomiese effektiwiteit af. Die voorgestelde integrering van streekontwikkelingsbeleid en differensiële verstedeliking behoort hierdie
negatiewe tendens ten opsigte van effektiwiteit en volhoubaarheid om te
keer, ten einde toenemende volhoubaarheid en effektiwiteit te verseker in die stedelike ontwikkelingsproses.