“Ons is (nie) almal so (nie)”: Afrikaneridentiteit in post-94 prosatekste
Abstract
Hierdie proefskrif ondersoek die wyse waarop Afrikaneridentiteit in die Afrikaanse prosa ná 1994 uitgebeeld word, spesifiek in tekste waarvan die oorgrote verhaaltyd in die postkoloniale era van die nuwe Suid-Afrika afspeel. Die volgende romans is as fokustekste gebruik: P.J. Haasbroek se Oemkontoe van die nasie (2001), Jeanne Goosen se ʼn Pawpaw vir my darling (2002), Kleinboer se Kontrei (2003), Koos Kombuis se Raka die roman (2005), Deon Opperman se Hartland (2012), en Johann Rossouw se Verwoerdburg (2014). Daar is ook fokustekste uit die kortverhaalgenre gebruik: Nini Bennett se “Staatsgreep” (2002), Abraham H. de Vries se Tot verhaal kom (2003), Herman Wasserman se Aan die ander kant van die stad (2003), Tom Dreyer se “ʼn Nuwe argitektuur” (2007), Welma Odendaal se “Goodwood” (2009) en “Uithaal en wys” (2009), S.J. Naudé se Alfabet van die voëls (2011), Hans Pienaar se Te veel sorge (om te verkoop) (2016), en Helena Gunter se “Angelus Novus Africanus” (2018). Die mees gesaghebbende, aktuele en bygewerkte oorsig van die Afrikaanse prosa, is Henriette Roos (2015:92-271) se literatuuroorsig in Perspektief & Profiel. Hierin identifiseer sy Afrikaneridentiteit as ʼn prominente diskoers in die Afrikaanse prosa ná 1994, en lig sy twee kwessies uit wat as identiteitmerkers vir Afrikaneridentiteit dien, naamlik ʼn ontnugterde en aggressiewe geestestemming weens die wantroue in die morele waardes van ʼn ouer geslag, en ʼn gebrek aan idealisme oor die toekoms. Roos identifiseer ook fyner nuanses binne hierdie twee oorkoepelende merkers, soos kultuurpessimisme, stigmatisering, afskakeling van taalregister, emigrasie, gebrek aan (politieke) leiding, en globalisering. Hierdie studie dien as ʼn kritiese reaksie op Roos se oorsigtelike bespreking. My ondersoek na die wyse waarop Afrikaneridentiteit in die geselekteerde prosatekste uitgebeeld word, evalueer uiteindelik Roos se geïdentifiseerde identiteitmerkers om die volgende vas te stel: of dit geldige en beslissende merkers is; of daar alternatiewe merkers geïdentifiseer kan word; en of daar vanuit die geselekteerde tekste ʼn sodanige verandering binne Roos se geïdentifiseerde merkers plaasgevind het. Die afsonderlike analise van elke geselekteerde teks, en die verbande wat ten slotte tussen die tekste getrek word, toon duidelik dat al Roos se geïdentifiseerde merkers bevestig word, en dus as geldige merkers dien waarvolgens postkoloniale Afrikaneridentiteit in die Afrikaanse prosa ondersoek kan word. Alhoewel hulle geldige merkers is, toon my analises dat Roos se merkers verskeie leemtes bevat rakende die kompleksiteit rondom Afrikaneridentiteit as literêre diskoers. Verder is dit ook duidelik dat verskeie van die tekste variasies bied ten opsigte van die wyse waarop Roos se merkers benader word. Die vergelykende ondersoek na die geselekteerde tekste se uitbeeldings van Afrikaner-identiteit, aktiveer die volgende diskoerse wat ek as bykomende merkers voorstel ten einde postkoloniale Afrikaneridentiteit in die Afrikaanse prosa op ʼn meer genuanseerde wyse te ondersoek: die verbrokkeling van die tradisionele Afrikaner-patriargie; Afrikaners se beskouing van swart mense as “die Ander”; Afrikaners se self-beskouing in ʼn postkoloniale konteks; Afrikaners se gevoel van ontheemding in die nuwe Suid-Afrika; die rol van herinneringe aan ʼn verbygegane Afrikaner-era; skuld oor die Afrikaner se koloniale verlede; en die geestelike regressie en morele verval van die Afrikaner in die nuwe Suid-Afrika. Hierdie studie lewer dus ʼn unieke bydrae deurdat hierdie bykomende merkers voortbou op Roos se geïdentifiseerde merkers rondom Afrikaneridentiteit deur hulle aan te vul en te verbreed. Terselfdertyd toon die studie ook aan dat dit problematies is om Roos se merkers as voldoende en deurslaggewend vir die literêre diskoers rondom Afrikaneridentiteit te aanvaar. ʼn Verdere bydrae is dat hierdie studie se ontleding werk bevat wat ná 2010 verskyn het, terwyl Roos se perspektief op die Afrikaanse prosa – al is dit redelik onlangs opgedateer – eindig by werke wat tot en met 2010 verskyn het. Dieselfde geld in die hoofstuk wat uitsluitlik fokus op kortverhale wat ná 2000 verskyn het, waar Herman Wasserman se doktorale proefskrif – nog ʼn belangrike verwysingspunt vir hierdie studie – ondersoek instel na konstruksies van postkoloniale kulturele identiteit in Afrikaanse kortverhale wat tussen 1994 en 2000 gepubliseer is. Hierdie studie verbreed dus bestaande literatuurbesprekings wat fokus op postkoloniale Afrikaneridentiteit deur dit op te dateer met besprekings van meer resente tekste. Die geselekteerde tekste wat in hierdie studie ondersoek is, toon deurgaans ʼn soort betrokkenheid by die sosio-politieke omstandighede van postkoloniale Suid-Afrika. Hierdie betrokkenheid kom aan die bod deur te fokus op die Afrikaner se identiteit, en te besin op watter wyse hierdie Afrikaneridentiteit deel vorm van ʼn Suid-Afrikaanse identiteit, en selfs ʼn transnasionale identiteit. Verder word daar ook in sekere van die tekste besin oor die wyse waarop hierdie Afrikaneridentiteit op positiewe wyse ingespan kan word by ʼn veranderde samelewing en wêreld. Aangesien meeste van die geselekteerde tekste blyk om ʼn oproep tot betrokkenheid en ʼn aansporing tot verandering by die leser te aktiveer, word daar ten slotte ook geargumenteer dat die literêre diskoers rondom Afrikaneridentiteit as ʼn voorbeeld van betrokke literatuur gelees kan word.
Collections
- Humanities [2671]