Les rites des passage en liminaliteit van 'n migranteskrywer: Simboliese neerslag in Eben Venter se eerste drie romans
Abstract
Liminaliteit speel ’n belangrike rol in die oeuvre van Eben Venter, een van die voorste Afrikaanse skrywers. Dit hou verband met durende storiegegewens in sy werk wat te make het met die karakters se periferale toestande, oorgange en buitestanderskap (emigrante, gays, vegetariërs, ekonomies en polities ondergeskiktes) én met van die belangrikste temas daarvan, naamlik grensoorskryding, afskeid, verlies, verwarring, ontheemding, trauma, aanpassing en identiteitsverlies. Venter se eerste drie boeke, ’n trits met sikliese eienskappe (vergelyk byvoorbeeld die drieledige aard van rites de passage wat in Venter se eerste drie romans neerslag vind; die herhaling van temas soos emigrasie, die ondermyning van die patriargale bestel, en die hergebruik van karaktername en -tipes in die verskillende romans) word daarom in hierdie onderhawige studie ontleed aan die hand van seminale liminaliteitsteorieë. Hierdie trits kan in ’n sekere opsig dien as voorbeeld of staalkaart van Venter se liminale werkwyse, ook omdat die verplasing van plaas na stad; van stad na die buiteland hierin sentraal staan – almal peregrinasies met “liminaliteitsgevolge”. Die liminaliteitsteorie het as grondslag die antropoloog Arnold van Gennep (1908) se teorie oor die drieledigheid van oorgangsrites (rites de passage) by stamkulture. Afskeids-/skeidingsrites behels die simboliese afsterf van ’n individu se verlede en identiteit – die verlies van ’n vorige toestand. Oorgangs-/tussenfaserites kom voor tydens die liminale fase – ’n fase van verandering wat gelyktydig destruktief en konstruktief is. Tydens hierdie fase staan die inisiant buite sy/haar normale sosiale omgewing, terwyl hy/sy onderwerp word aan ’n pynlike proses van verandering. Alhoewel die inisiant fisies en emosioneel afgekraak of afgebreek word, moet hy/sy dit transendeer, om sodoende die wêreld te betree as ’n tabula rasa (skoon bladsy). Laastens, word die inisiant onderwerp aan ’n integrasie-/herassimilasierite ten einde hom/haar weer te assimileer in die gemeenskap. Victor Turner (1967-1974) se liminaliteitsteorie is ’n uitbreiding van die middelfase – die liminale fase – van Van Gennep se driefase-struktuur. Hy het onder andere die samehorigheid van inisiante gedurende hierdie fase beklemtoon, met die gepaardgaande ontstaan van ’n communitas, asook die rol van begeleiers om inisiante deur die fase te lei. Ook van belang tydens die liminale fase is die verskyning van die triekster – ’n verleidelike figuur wat tipies binne die onsekere/verwarde liminale tussenfase verskyn. Trieksters staan buite die gevestigde strukture en is tipies amoreel, dubbelsinnig, losbandig, ’n shape-shifter, slinks en onbetroubaar. In die hedendaagse lewe ondergaan ’n individu steeds ’n verskeidenheid “rites” deur die loop van sy/haar lewe – van geboorte tot dood. Vir groepe sowel as individue beteken die lewe: skeiding en hereniging, om van toestand (status) te verander, om dood te gaan en om hergebore te word (samsara). Telkens is daar nuwe drumpels (tyd- en ruimtelik) om oor te steek: seisoene, ’n jaar, ’n maand, ’n nag, die drumpel van geboorte, adolessensie, volwassenheid, bejaardheid, die dood, en – vir gelowiges – die hiernamaals. Dit impliseer dat alle individue deur dieselfde eindelose reeks rites gaan, van lewe tot dood en van dood tot lewe. Gegewe Venter se religieuse agtergrond en die feit dat hy hom ook tot Boeddhisme gewend het vir antwoorde op eksistensiële vraagstukke met die dood van sy broer, is hierdie samsara van lewe-dood, dood-lewe van belang. Ook hy het in sy persoonlike lewe ’n hele aantal “rites” deurgegaan (plaas na stad, emigrasie, sogenaamd straight na gay, vegetarisme, ensomeer) – gebeure wat tematies neerslag vind in sy romans. Wanneer daar na Venter se eerste drie romans gekyk word binne die konteks van rites de passage, kan die argument gemaak word dat dié drie romans onderskeidelik gelees kan word as ’n afskeidsroman (Foxtrot van die vleiseters), ’n oorgangs- of liminale roman (Ek stamel ek sterwe) en ’n herassimilasieroman (My simpatie, Cerise). • Foxtrot van die vleiseters is ’n verhaal van afskeid, met legio merkers van afskeidsrites en karakters wat ’n vroeëre fase verlaat en ’n onbekende, verwarrende tyd/ruimte ingaan. Maaltye, onthale en ander feestelikhede kry seremoniële lading, terwyl die verwarring van die verbrokkelende apartheidsisteem en politieke veranderings die verhaal en die karakters dryf. Ek stamel ek sterwe verteenwoordig die liminale oorgangsfase, en is ’n uiters geslaagde en indrukwekkende representasie van die verwarring, opwinding, onsekerheid en trauma van oorgang en verandering. Drumpels, grense en oorgangsperiodes is deurgaans aan bod – die verandering vanaf die plaasmilieu na die stad, van een land na ’n ander, van vleiseter na vegetariër, van heteroseksueel (of minstens latent gay) tot homoseksuele man, en as oorkoepelende tema, die oorgang van gesond na siek en uiteindelik lewe na dood. Die ambivalente triekster-alter ego tree na vore om die hoofkarakter te verlei, terwyl ’n aantal begeleiers hom bystaan en help deur sy oorgangsfases. My simpatie, Cerise verteenwoordig binne die rituele-trits die herassimilasie-fase, die periode waar die individu tipies uit die verwarring van die oorgangsperiode terugtree in die sosiale struktuur as vernuwe en veranderde persoon. Waar die hoofkarakter(s) in die eerste twee romans ’n tradisioneel “stabiele” omgewing (die erfplaas) verruil vir ’n onstabiele omgewing (die groot hedonistiese stad, ’n losbandige subkultuur in ’n vreemde land, ensomeer), betree die hoofkarakter hier ’n meer struktuurgebonde omgewing waar hy as ondergestelde (’n eenvoudige arm tuinier en emigrant) ongeslaagd poog om te integreer binne die gemeenskapstruktuur van die ryk hoër klas van Sydney in sy aanneemland, Australië. Deur die drie romans te interpreteer as onderskeidelik verteenwoordigend van elk van die drie fases van oorgang soos gedefinieer in die liminaliteitsteorie, bevestig die plasing daarvan binne die raamwerk van ’n tipe rites de passage-trits. Alhoewel die romans oorkoepelend onderskeidelik afskeid, oorgang en herintegrasie verteenwoordig, kan aspekte van hierdie drieledige proses in elk van die drie romans aangetref word. Karakters soos byvoorbeeld Johannes, Konstant en Robert beleef in elk van die verhale hul eie rite de passage. Daarbenewens vorm die romans tematies ook ’n siklus deur die herhaling van sekere elemente (ondermyning van die patriargale struktuur, problematiese pa-seun-verhoudings, afwesige ma’s, die bakkietonele, riviertonele, rebellerende seuns, voedsel en feesmaaltye, homoseksualiteit) sowel as karaktername (Robert, Betsie, Jannie, Theresa, Fritzie) en karaktertipes (die homoseksuele seuns, emigrante, hedoniste). Die sikliese terugkeer en herinterpretasie van sleuteltemas en motiewe vorm ’n binddraad deur die drie romans en eien hierdie rites de passage-trits verder as ’n siklus. Die sikliese aard van die trits word versterk en bevestig wanneer die hoofkarakter Robert in die derde roman aan die einde van die verhaal die sisteem agterlaat en die eerste tree gee om aan te beweeg die onbekende in, wat siklies aansluit by Johannes se eerste grensdeurbrekende skuif weg van die plaas af in die eerste roman. Die keuse vir ’n sikliese bou is frappant en nie net maar ‘n willekeurigheid nie, want ’n siklus druk gewoonlik wording of verwording uit en stel ’n geheelbetekenis daar wat nie in een van die aparte dele volledig tot uiting kom nie. Soos Venter self is die hoofkarakters meestal liminale individue –gemarginaliseerdes, outsiders, buitestanders of randfigure. Die liminaal-gelaaide grensoorskrydings wat uitgeskryf word in hierdie romans toon dan ook duidelike ooreenkomste met die perigrinasies van Venter self. Verkap-outobiografies gesien verteenwoordig dit as ’t ware Venter se eie rites de passage van agrariese Suid-Afrikaanse boerseun tot homoseksuele skrywer in Australië. Verskeie grensoorskrydings in tyd en ruimte word deur die hoofkarakters meegemaak wat telkens ’n verandering by die individue teweegbring in die romans, met die daarmee gepaardgaande afskeid, verlies, verwarring, trauma, heraanpassing, individuasieproses, ensomeer. Soortgelyk het Venter ’n aantal grense oorgesteek tydens sy eie individuasiereis wat ook hom onherroeplik verander het. In aansluiting by Venter en sy karakters se liminale status, is ook die literêre skryf- en leesprosesse op sigselwers liminale handelinge. In sy skrywerskap bevind Venter homself dus in ’n liminale ruimte – ’n ruimte wat hy deel met sy lesers – en binne hierdie ruimte leef hy hom uit as trieksterskrywer. Deur die lees van sy eerste drie romans kry die leser tot ’n mate insae in Venter se eie rites de passage – die ontheemding van Foxtrot van die vleiseters, die verwarring en disoriëntasie van Ek stamel ek sterwe en die vervreemding van My simpatie, Cerise.
Collections
- Humanities [2671]