Om wêrelde te verbeel(d): tekstuele relasionaliteit in Wonderboom (Lien Botha)
Abstract
In hierdie artikel word ondersoek ingestel na die verhouding tussen visuele tekste en die geskrewe teks, asook die wêrelde in beeld en wêrelde in woord in Lien Botha se roman Wonderboom (2015). Lara-Rallo (2009) se opvatting dat teks en teks, dus beeldteks en woordteks, as spieël en teks funksioneer, dui op tekstuele relasionaliteit en dit is die fokus van my ondersoek. Die foto's wat in die roman as deel van die teks aangebied word, kan gesien word as 'n koppelvlak met die res van Botha se oeuvre, gevolglik word ook Botha se visuele oeuvre in die ondersoek betrek. Aan die begin van elke hoofstuk in die boek is daar boonop 'n foto van 'n konstruksie/collage wat as visuele inleiding dien, maar wat terselfdertyd in die roman as ontbindende beeldsekwensie toegepas word. Die collage wat deurlopend deel vorm van die literêre teks, bestaan uit 'n versameling van verskillende fragmente; beelde van verafgeleë of vergane wêrelde wat ook "gelees" kan word as fragmente van die geheue (ou beelde) wat sy toe-eien in die hede, dus wêrelde in wêrelde. Die visuele vergestalting van hierdie wêrelde word aangebied as verdwene (letterlik) van die een na die volgende, asof dit in die hede verskyn én verdwyn. Daarby is die plekke van die verlede wat in die roman (her)besoek word, nie langer werklik nie, maar per definisie verbeel. Dit kan dus bestempel word as verbeelde wêrelde. Die problematiek van geheue, hetsy om te onthou en/of te vergeet, is nie slegs deurgaans 'n integrale deel van Wonderboom se verhaal nie, maar dit is ook (saam met die reisgegewe) die kern waarom die gebeure in die verhaal ontvou. Verbeelding en geheue hou, naas tydsbelewing, met nostalgie verband. Die onmoontlikheid om na die tuiste as beginpunt van die self terug te keer, wat nostalgie definieer, bied gevolglik een interpretasiemoontlikheid vir die oop slot van die verhaal.
URI
https://www.litnet.co.za/om-werelde-te-verbeeld-tekstuele-relasionaliteit-wonderboom-lien-botha/http://hdl.handle.net/10394/28045
Collections
- Faculty of Humanities [2033]