Outobiografie as hermeneutiek van die self: Van Rousseau tot Le Clézio
Abstract
Hierdie artikel ondersoek die hipotese dat outobiografie as ’n soort hermeneutiek van die
self beskou kan word. Vir hierdie doel word ’n seleksie van Franse outobiografieë behandel.
Aangesien hierdie studie ’n verwerking van ’n intreerede is, is dit oorsigtelik van aard en
poog dit nie om ’n gedetailleerde ontleding van óf die teorie óf die tekste waarna verwys
word, te gee nie. Jean-Jacques Rousseau se Confessions, wat allerweë as een van die hoekstene
van die moderne outobiografie beskou word, is as vertrekpunt gebruik vir die interpretasie
van verstaanshandelinge ingebed in outobiografiese tekste. Die artikel toon voorts aan
hoe die skrywers van die res van die korpus op verskillende wyses Rousseau se historiese
model bevraagteken in aansluiting by nuwer denkwyses. So word daar aangetoon dat
George Perec die historiese model laat vaar om eerder tekens uit die verlede te ontsyfer; dat
Nathalie Sarraute die gedagte van die verdeelde subjek van die Nuwe Roman kombineer
met haar konsep van tropismes om ’n deurleefde weergawe van haar kinderjare te skep; en
dat Roland Barthes die aanname dat taal ’n medium van uitdrukking van subjektiwiteit
kan wees, problematiseer om ’n ‘anti-outobiografie’ te skryf. Voorts is aangetoon hoe
Marguerite Yourcenar wegbreek van die antropomorfisme van die humanisme om die weg
te baan vir die besef dat die teenwoordigheid van die Ander die uitleg van die self ten
diepste bepaal. Laastens word die etiek van die Ander in interkulturele ontmoetings, soos
geboekstaaf in die outobiografieë van Ken Bugul en Jean-Marie Le Clézio, ondersoek. Die
artikel toon aan hoe literêr-filosofiese tendense die gedagte van singewing en interpretasie
van die persoonlike verlede en gevolglik die aard van outobiografie vanaf die agtiende eeu
beïnvloed het.
Collections
- Faculty of Humanities [2033]